2 maande gelede
‘Skole is onder geweldige druk’
tentskool: Matroosbergweg Primêr moes ’n plan maak oor hy te veel leerders het. Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 

SKOLE in die Wes-Kaap bars uit hul nate met leerders.

Debbie Schäfer, die Wes-Kaapse minister van onderwys, sê leerdergetalle in die provinsie het met 18 285 gestyg in vergelyking met die styging van 16 285 in die vorige jaar.

Die realiteit van die toe­name noop die WKOD om 15 nuwe skole te bou, asook 480 onderwysers aan te stel.

In ’n nuusverklaring het Schäfer gesê dat daar tans sowat 5 700 leerders is wat nog nie in skole geplaas kon word nie.

Van dié getal het 5 510 leerders laat aansoek gedoen om in skole geplaas te kon word.

Die WKOD staal hom voorts om in die volgende twee weke nog laat aansoeke te ontvang.

Die WKOD het al in 2018 mobiele klaskamers bestel en verlede week nog 70 ekstra.

Sy sê: “Maar selfs met al die voorsorg bly die departement nie voor nie.

“Die oprigting van die mobiele klaskamers neem ook tyd.

“In die laaste vyf jaar het die provinsie 130 000 leerders bygekry wat uit ander provinsie hierheen getrek het.

“Die leerders kom meestal van die Oos-Kaap.”

Aanpas

Volgens haar plaas dit geweldige druk op die departement.

Wat die WKOD verder knyp, is dat die verminderde befondsing wat van die nasionale regering ontvang word, begrotingsaanpassings tot gevolg het.

Al dié faktore veroorsaak dat die WKOD deurentyd sy planne moet aanpas.

Schafer sê dit ontstel haar verskriklik as sy getuienis voor die staatskapingskommissie hoor oor miljarde wat na bewering gemors is terwyl skole so sukkel.

Tog bly die minister se belofte: “Ons is verbind daartoe om aan elke leerder onderrig van gehalte te gee, maar die uitdagings is reusagtig.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters