2 maande gelede
Skole gesluit ná violent betogings
Debbie SchÄferFoto: Peter Abrahams  ~ 

NAGENOEG 30 skole in Kaapstad is laas week deur gewelddadige betogings in die skiereiland geruk.

Inwoners van Lwandle, Nomzamo en Macassar in die Strand, Khayelitsha en Happy Valley in Blackheath het verskeie protesoptredes oor ’n gebrek aan diens­lewering en behuising gehad.

Eersterivier se inwoners het Vrydag by die gemeenskappe aangesluit.

Volgens Debbie Schäfer, provinsiale minister van onderwys, moes hulle 21 skole toemaak. ’n Verdere 8 skole is geraak deur die geweld.

“Vrydag is nog skole ontwrig. By die ander skole het minder leerders opgedaag.

“Diegene wat skoolgaan in ’n ander gebied, kon nie by hulle skole uitkom nie. Ek veroordeel die geweld. Baie van ons onderwysers is ook hierdeur geraak.”

Schäfer sê mense het ’n reg om te betoog, maar die geweld waarmee die protesoptredes gepaardgaan, is kommerwekkend en onaanvaarbaar.

“Ons hoop dat die polisie gou sal ingryp om weer orde in die gemeenskap te bring sodat die onderrig en opvoeding kan voortgaan.”

Veiligheid

Volgens Schäfer is sy gekant teen ontwrigting in die skooljaar, maar sy is meer bekommerd daaroor dié tyd van die jaar.

“Dis ’n kritieke tyd van die jaar, want die leerders is nou besig met assessering en eksamens.”

In dieselfde asem sê Schäfer die WKOD se prioriteit is die leerders en personeel se veiligheid.

“Maar onderrig is net so belangrik en kan nie ontwrig word deur mense wat hulle eie agenda het nie.

“Ek rig ’n versoek aan invloedryke gemeenskapsleiers om ons te help om te keer dat die leerders se onderrig versteur word. Dis hoog tyd dat mense wat ander se geleenthede vernietig, verantwoordelik gehou word vir hulle gedrag.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters