Verlede maand
Skietery neem nou toe; twee mans sterf
MOORDTONEEL: ’n Man is Maandagmiddag in Sercor-rylaan in Broadlands doodgeskiet.  ~ Verskaf

TWEE mans is sedert Sondagaand in die Strand doodgeskiet.

Die inwoners van die woongebiede Casablanca, Broadlands­ en Sercor Park vrees nou dat bendegeweld weer in hul woongebiede gaan kop uitsteek.

Bendegeweld was vir meer as ’n maand baie stil nadat die teenbende-eenheid in die Strand opgetree het.

Verskeie mense is toe in hegtenis geneem vir die besit van dwelms, wapens­ en ammunisie, asook ander misdade.

Sers. Wesley Twigg, ’n polisiewoordvoerder, sê Hintley Ruiters (23) is Sondag om 20:30 in Veronica-straat, Sercor Park, doodgeskiet.

Aangeval

Ruiters het op ’n fiets gery toe daar op hom geskiet is.

Son verneem Ruiters was van sy meisie se huis op pad toe hy deur twee mans aangeval is.

Daar is na bewering agt skote op hom afgevuur.

Hy is op die toneel dood verklaar.

Maandag om 14:15 is ’n 31-jarige man in Broadlands in Sercor-rylaan ook doodgeskiet.

Die omstandighede rondom die moord word ondersoek. Niemand is nog vir die voorval in hegtenis geneem nie.

Mense met inligting oor die voorval word versoek om lt.kol. Franklin Plaatjies te bel by 082 469 3359.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters