15 dae gelede
Skietery eis twee tieners se lewe
MOORDTONEEL: Twee laaities van Manenberg is Maandagaand koelbloedig in Hanover Park afgemaai.  ~ Leon Knipe

TWEE laities is Maandag in Hanover Park koelbloedig doodgeskiet.

Die laities, net bekend as Nando en Enrico (16 en 17 jaar oud) is omstreeks 20:10 in ’n skietery in Greenturf Road afgemaai.

Albei laities is van Manenberg en albei is verskeie kere raakgeskiet. Hulle is op die toneel dood.

Die verdagtes het in ’n swart Opel Corsa-bakkie van die toneel gevlug en is nog nie gearresteer nie.

Volgens ’n gemeenskapswerker, Kashiefa Mohammad, het die skietery sedert die lockdown nog nie opgehou nie.

Leidrade

Mohammad sê: “Daar is ’n week gelede ’n bejaarde man van 70 jaar oud in ’n skietery gewond. Die man loop met ’n kierie. Hy is steeds in die hospitaal.”

Sy beweer die misdaad gaan net voort en die Somaliese winkeleienaars word gegunpoint en van hul sigarette beroof.

Volgens lt.kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die polisie leidrade opgevolg en twee verdagtes is kort ná die voorval Maandagaand gearresteer.

Die verdagtes van onderskeidelik 24 en 37 jaar oud sal binnekort in die Athlone Landdroshof op aanklag van moord verskyn.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters