2 maande gelede
Skelms teiken gebedsplekke
salaah: Nazeer Abrahams, die opsigter by die Rocklands- masiet in Mitchells Plain, sê hy mis dit om saam met ander gelowiges te bid.Foto’s: Jonathan Lestrade  ~ 

PLEKKE van aanbidding is geestelike hospitale wat broodnodig is.

Só meen pastore en imams wat voel dat die lockdown hulle nie net finansieel gekos het nie, maar ook geestelik.

Alle plekke van aanbidding moes hul deure as gevolg van die vlak 4-lockdown sluit.

Die leiers sê hulle aanvaar en respekteer die regering se besluit, maar meen tog dis ’n bietjie onregverdig.

Die nasionale beweging Pastors Against Church Closures beskryf die sluiting van plekke vir aanbidding as “irrasioneel”.

Die beweging se Wes-Kaapse leiers het Vrydag ’n inligtingsessie in Khayeli­tsha gehou waar hulle hul steun aan kerke toegesê het wat hul deure wou oopmaak.

Eerw. Oscar Bougardt sê hy verstaan die regering se besluit, maar meen daar is ook ’n groot geestelike oorlog aan die gang.

“Ek voel die government is baie onregverdig, want daar is nog taxi’s, busse, malls en soveel plekke wat nie by regulasies hou nie.

Makeer

“Maar hier is ons, die geestelike leiers, wat elke keer die regulasies volg. Ons luister na scientists, maar hulle luister nooit na ons nie.

“Die mense makeer God nou meer as enige iets anders. Ons is besig om teen Covid te baklei, nie net fisiek nie, maar ook met die gees!

“Dis die eerste ding wat hulle toemaak. Hulle het klaar gebed uit die skole en parlement gevat. Nou wil hulle dit uit die hele land hê.

“Kyk hoe groet die president ons in die naam van die regering ... nee! Hulle het geestelike leiers, maar nie hier op die grond nie.”

Bougardt voeg by die lockdown veroorsaak ook dat plekke van aanbidding soft targets vir inbrake word.

“Die land is op lockdown, maar nie die skelms nie.”

los ons: Geloofsleiers vra mooi dat diewe moet ophou om hulle in die lockdown te target.

Moulana Sabrie Davids van die Rocklands-masiet in Mitchells Plain, stem saam met Bougardt. Hy verstaan nie hoekom ander sektore nie net regulasies kan volg nie.

“As gelowiges is ons hartseer oor die sluiting van ons aanbiddingsplekke. Dit is die plekke wat ons hoop gee en aan die gang hou in tye van onrus, want ons glo Allah kan ons deurdra.

“Ja, ons verstaan die regeringsbesluite, maar ons kan nie net van aanbidding skei as gevolg van ’n pandemie nie. Ons moet dit nou regtig ophef.”

Hy sê die plekke van aanbidding volg altyd regulasies, maar suffer eerste.

“Nou word ons nie net deur die regering geteiken nie, maar ook skelms. Dis hoekom ons die gangsters wil vra: Asseblief, los ons masiets en kerke af!”

In Parkwood is daar oor die naweek by die Nuwe Apostoliese Kerk ingebreek.

AO Joseph Swartbooi, ’n polisiewoordvoerder, bevestig die inbraak en sê die verdagtes het met kerktoerusting van die toneel gevlug.

Niemand is nog hiervoor in hegtenis geneem nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters