2 maande gelede
Skelms target poskantore
Skelms het bejaardes op die Kaapse Vlakte van hul pensioengeld beroof.  ~ Foto Verskaf

SKELMS het poskantore Dinsdag geteiken terwyl bejaardes vir hul pensioengeld in die ry gewag het.

Op een dag is twee poskantore op die Kaapse Vlakte met dieselfde modus operandi beroof.

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die rooftogte Dinsdag omstreeks 10:00 in Bishop Lavis plaasgevind en omstreeks 07:00 in Belhar.

Kapt. Van Wyk verduidelik drie onbekende verdagtes het by albei poskantore ingehardloop.

“Ál drie verdagtes was gewapen en het die personeel gedreig om op die vloer te lê en vir hulle die sleutels van die kluis te gee.

“Hulle is weg met ’n onbekende bedrag.”

Volgens ’n uncle wat in Belhar in die ry gestaan het, het die rowers vir lank in hul kar voor die poskantoor gesit en wag totdat die geldvên gekom het.

Die uncle, wat verkies om anoniem te bly, sê die rowers het toe by die poskantoor ingestorm nadat die geldvên opgedaag het.

Gevlug

Volgens Van Wyk is daar nog geen arrestasies uitgevoer nie.

“In Belhar het die verdagtes in ’n silwer Toyota RunX gevlug. Geen skote is gevuur nie en niemand is beseer nie.”

Die polisie ondersoek tans sake van gewapende roof en vra die publiek om inligting oor dié misdade aan hulle te verskaf.

“Enige een met inligting kan die Belhar-polisiestasie by 021 953 8101 bel of kontak die Stop Misdaad-sentrum by 08600 10111.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters