9 dae gelede
Skaatsertjie ’n kampioen
GOUE MEISIE: Tamika van As het die goue medalje losgeskaats.  ~ Jonathan Lestrade

SY IS die Bontas se eie goue meisie.

Tamika van As (8) van Bonteheuwel is ’n lewende bewys dat waar jy grootword, nie bepaal waarheen jy op pad is nie.

Dié gr. 3-leerder van die Laerskool Athlone het die naweek op die nasionale kunsskaats-kampioenskapsbyeenkoms die eerste plek en die goue medalje in die meisiesafdeling verower.

Van As se trotse ouers, Graham en Tarren, vertel aan Son hulle is in die wolke oor hul dogter se prestasie.

Graham vertel hoe sy hart van trots wil bars oor sy baby se sege.

“Sy was maar net vier jaar oud toe sy saam met my GrandWest toe gegaan het waar ek destyds tafeltennis afgerig het.

“Sy het dadelik die ice rink raakgesien en halsoorkop op dié sport verlief geraak.

“Sedertdien is die ice rink ons tweede huis, want sy het toe die klub daar gejoin.”

ONDERSTEUN: Inwoners het Tamika by die lughawe ingewag. Foto: Jonathan Lestrade

Tarren vertel van ’n tyd toe haar dogtertjie se drome amper nie waar geword het nie.

“Sy moes vir ’n jaar stop omdat ons nie die finansies gehad het nie, want die ice skates en klere is duur.

“Maar toe sy my vra, het ons die vasberadenheid in haar oë gesien en kyk, nou is sy die kampioen!”

Tarren, wat saam met haar dogter vir die kompetisie in Joburg was, onthou hoe sy agter die ruite van die ysskaatsbaan gestaan en voor die tyd die scores opgetally het.

“Toe ek afkyk, toe sien ek sy het gewen! Ek het geskreeu: Tamika is eerste! My kind is eerste!”

Toe Tamika gister op die Kaapstadse Internasionale Lughawe land, het ’n groep ondersteuners haar ingewag om haar terug te verwelkom.

Inspirasie

Onder die groep was raadslid Angus McKenzie, wat ook sy verjaardag gevier het.

McKenzie het aan Son gesê Tamika se besonderse oorwinning maak nie net haar familie baie trots nie, maar ook die breë gemeenskap van Bonteheuwel.

“Tamika is ’n inspi­rasie vir ons gemeenskap en ’n bewys dat daar nie net negatiewe dinge uit ons area kom nie.

“Sy is goud en sy het goud teruggebring,” het McKenzie gesê.

TROTS: Graham en Tarren van As is breëbors oor hul dogter se puik prestasie. Foto: Jonathan Lestrade

Tamika kon nie haar trane terughou toe sy haar derra weer sien nie.

Sy beskryf die emosie as ’n “baie great gevoel”.

Tamika verduidelik: “Ek was nogal nervous toe ek daar was, maar toe ek wen, het dit regtig amazing gevoel!”

Ma Tarren voeg by hulle kan hopelik oor twee jaar dieselfde in die groter kompetisies vermag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters