4 maande gelede
Skaam skurke gepos vir dade
Sku: Die vyf gemorste was gister bang om hulle gesigte vir die media te wys. Foto: Melinda Stuurman  ~ 

GRANT Fredericks se killers het gister soos skaam tieners probeer wegkruip toe hulle gevonnis word.

Die dwase bravade wat hulle op 20 September 2016 gehad het toe hulle Fredericks by ’n huiswinkel doodgeskiet het, was gister gone.

Fredericks (39), ’n pa van twee van Strandfontein, het na ’n huiswinkel in sy straat, Milanoweg, gegaan om ’n koeldrank te koop toe hy oorval is.

Fredericks het klaar sy goed by die Ali-Amin mobile shop gekoop en was op pad terug na sy rooi Polo toe die mans hom pak. Hy het hom glad nie teengesit nie en nog vir die mans gesê om net die kar te vat toe hulle hom in sy rug skiet.

Gepull

Regter Bruce Langa het Zi­ngisile Kleinhans, Themba Jilale en Mongameli Dyani in April skuldig bevind aan moord en 11 ander klagte wat daarmee verband hou.

Hulle drie is vir lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op Fredericks en die roof van sy kar.

Van die klagte spruit ook uit ’n rooftog wat dié drie en nog twee mans ’n dag ná die moord op Frederick in Claremont gepull het.

Siphokuhle Bulani en Xolani Nakumba is net skuldig bevind aan die rooftog by die juwelierswinkel.

Hulle is saam met die ander effektief 21 jaar tronk toe gepos vir die rooftog en die oortreding van die wet op georganiseerde misdaad, asook die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie.

Allison Fredericks, die slagoffer se vrou, het as weduwee en enkelma agtergebly. Sy wou nie in die media praat nie.

Yul Craig, haar broer, het ’n verklaring in die hof uitgelees oor die uitwerking van Fredericks se dood.

Astrid Februarie berig Craig het getuig oor die impak wat die moord gehad het.

“Hy was die backbone van sy familie. Hy was ’n liefdevolle mens, pa, broer, man vir my suster, sy vrou.

“My suster het baie op haar skouers en finansieel is dit glad nie maklik nie,” het hy gesê.

Craig het bygevoeg niks sal sy swaer terugbring nie. “Wat hulle aan hom gedoen het, was nie reg nie. Hulle het ’n goeie man van sy familie weggeneem. Ek hoop hulle kry wat hulle verdien.”

Alfred Isaacs, die staatsadvokaat, het in sy slotbetoë gesê: “Die finansiële omvang was verwoestend. Sy is met twee kinders gelaat en sukkel om hulle te ondersteun.

“Hulle pa was verantwoordelik vir hulle voordat hy deur die beskuldigdes vermoor is. Hy was ’n goeie pa en man.

“Hy het nie verdien om so ’n gewelddadige en sinne­lose dood te sterf nie.”

Langa sê die luisgatte het niks gehad wat in hulle guns getel het vir ’n korter vonnis nie. “Ek glo dat hulle voort sou gaan met die rooftog by die juwelierswinkel in Claremont. Die feit dat niemand beseer is nie, is omdat hulle planne deur ’n panic button gefnuik is.”

Allison het die hofverrigtinge bygewoon en is deur haar familielede ondersteun.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters