14 dae gelede
Sindikaat slaan toe
AMPER DOOD: ’n Koeëlgat sit reg voor die stuurwiel in die taxi se voorruit.  ~ Foto Verskaf

INWONERS van Browns Farm langs Philippi leef in vrees.

Hulle sê hulle is die target van ’n sindikaat wat hulle beroof en hul motors kaap.

Verskeie mense is al met vuurwapens gedreig en van hul besittings beroof.

Mehmet Vefa, ’n sakeman wat eiers verkoop, sê die sindikaat het hom ook van derduisende rande beroof.

Vefa sê: “Ek het my besigheid op Facebook geadverteer en ’n persoon in ’n rolstoel het twee bokse eiers bestel. Ek moes dit tot by die Philippi Junction Mall bring. Hy’t twee jong kinders gestuur om die eiers te kom haal.

Gedruk

“Toe ek vra waar die geld is, het hulle gesê ek moet dit agter die mall gaan haal by hul pa wat in ’n rolstoel is.

“Daar gekom het hulle ’n gun teen my kop gedruk.

“Hulle het my selfone geroof en R45 000 wat ek in die motor gehad het. Dit was my kinders se skoolgeld vir Januarie wanneer die skole heropen.

“Ek moes hardloop vir my lewe en het ’n sekuriteitswag gevra om die polisie te bel.”

’n Taxi-bestuurder wat personeellede van Hungry Lion vervoer, sê gewapende mans het hom ook al een aand in Browns Farm beroof toe hy die werkers gaan aflaai het.

Die voorval het op die hoek van Stompie Sepei- en Michael Mqulwane-straat, Samora Machel, gebeur.

Ek het op die hoek gestop om ’n passasier af te laai. ’n Groep mans het verby die taxi gestap terwyl ’n meisie besig was om uit te klim. My aandag was by die meisie wat besig was om uit te klim.

“Die mans het vinnig omgedraai en in die rigting van die taxi gehardloop. Ek kon sien hoe die meisie se gesigsuitdrukking verander.

“Toe ek omkyk, sien ek hoe die ouerige man die gun vir die jonger outjie gee.

“Ek het net betyds weggetrek toe die skoot afgaan. Die koeël het deur die venster aan die bestuurder se kant gegaan en by die voorruit uitgegaan.

“Ons was gelukkig om ongedeerd weg te kom. Ek het amper ’n ongeluk gemaak.”

Shadley Shabodien vertel hy is verlede jaar op 13 November by Browns Farm gekaap toe hy en sy broer vleisaflewerings gaan doen het.

Shabodien beweer die voorval het omstreeks 16:00 gebeur toe hulle vleis daar gaan aflewer het wat op Facebook bestel is.

Shabodien sê: “Toe ons by die betrokke adres in Browns Farm kom, het ’n groep mans ons met guns ingewag. Hulle het die bakkie se sleutels en ál ons besettings gevat. Hulle het met die bakkie weggery.

“Ons moes vir amper ’n halfuur loop tot by Philippi Junction Mall om die polisie te bel.

“Ons bakkie is twee ure later gevind.”

Nog ’n vrou van Browns Farm beweer haar bejaarde pa is ook al amper daar in die buurt gekaap.

Sy sê: “Hulle het hom gegunpoint en met die gun oor die kop geslaan. Hulle wou sy bakkie roof, maar die gun het gejam en toe steel hulle net sy besittings en hardloop daarmee weg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters