12 dae gelede
Sibbes kry nog ’n kans
Die oomblik! Prins Davids en sy sussie Grietjie Davids omhels mekaar gister ná jare.  ~ Verskaf

TRANE van blydskap het vrylik gevloei toe ’n broer en suster mekaar ná 45 jaar weer vir die eerste keer sien.

Prins Davids (56), wat in Johannesburg woon, het Sondag op ’n bus geklim en Kaap toe gekom om sy suster Grietjie Davids (63), wat in Sir Lowry’s Pass woon, te ontmoet.

Hy het gister met die bus tot in Bellville gekom en George Willams van Track n Trace het hom na sy suster in Sir Lowry’s Pass geneem.

Davids sê: “Dit was ’n baie emosionele oomblik om my suster ná soveel jare weer te sien. Ons het sedert Vadersdag op die foon gesels, maar dit is nie dieselfde nie. Om mekaar weer te sien was baie hartseer en die trane van blydskap het gevloei.

“Ons is baie dankbaar dat God en Track n Trace ons by mekaar uitgebring het. Dis iets wat ons nie self

kon regkry nie.

“Ek is bly om my suster se kinders te ontmoet en gaan nog vir die week in die Kaap kuier. My ander suster wat in die Oos-Kaap woon, het nog nie ons suster ontmoet nie, maar ons sal later in die jaar ’n plan maak.

“Ek wil ook graag my ma se ander familie ontmoet.”

Prins se suster Grietjie sê: “Ek voel baie bly en gelukkig om ná al die jare weer by mekaar uit te kom.”

Sy het al die jare gewonder of haar broer nog lewe – en nou kan hulle vergoed vir al daai verlore jare.

Kontak

Die Covid-19-regulasies het voorheen ’n stokkie voor hul herontmoeting gesteek.

Maar gister was toe eindelik hul blye dag.

Son het vroër vanjaar berig hoe hulle op Vadersdag ná 45 jaar vir die eerste in kontak met mekaar gekom het.

Dit was nadat Track n Trace die familie van die Johannesburgse musikant in Kaapstad opgespoor het.

Hy gesels sedertdien gereeld met Grietjie.

Davids het 1976 laas sy familie gesien.

Dit was toe hy en sy ander suster en broer saam met hul pa, Bobby Mfiki, na die Oos- Kaap verhuis het.

Sy ma, Elizabeth Davids, en nog vyf van sy broers en susters het in die Kaap agtergebly.

Sy pa het ongelukkig in die Oos-Kaap siek geraak en gesterf en hy het kontak met sy ma en familie in die Kaap verloor.

Sy jonger broer wat saam met hom in die Oos Kaap was, het intussen afgesterf.

Sy ander suster, Mariaan Mfiki, woon steeds in die Oos-Kaap.

Davids het na Johannesburg verhuis om daar ’n lewe vir homself te maak.

Hul ma is ook intussen oorlede.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters