13 dae gelede
Sewe verskuif eerder kampie
BAAI: Die aktiviste trek sak en pak uit die mansion.  ~ Anele Mfazwe

DIE aktiviste wat drie weke gelede ’n mansion in Kampsbaai beset het, het nou die handdoek ingegooi.

Die sewe #WeSeeYou-aktiviste het gister omstreeks 12:00 uitgetrek en die sleutels aan die eienaars se agent oorhandig.

Son het vroeër berig die aktiviste het die spoghuis beset om die fokus op die struggle teen haweloosheid, grondloosheid en armoede te plaas.

Hulle het vroeër campaign vir veiliger blyplekke vir armes.

Die eienaars van die betrokke huis het die Kaapse hooggeregshof genader vir ’n uitsettingsbevel.

Die hof het die aansoek Vrydag 2 Oktober toegestaan en die aktiviste is tot gistermiddag tyd gegee om uit te trek.

Die aktiviste het aanvanklik die spoghuis gehuur, maar toe hul betaalde verblyftyd verstreke was het hulle nie uitgetrek nie.

By Son se aankoms gister was die aktiviste besig om uit te trek.

Ander behuisingsgroepe wat in die laaste paar dae ook by die massiewe huis wou intrek, was kwaad oor die #WeSeeYou-aktiviste se besluit om die aftog te blaas.

Lede van die Singabala­pha-behuisingsgroep het kwaai bek gerek oor die besluit om uit te trek.

Singabalapha-aktiviste bly al langer as ’n jaar op ’n sypaadjie in Observatory buite ’n ouetehuis wat platgeslaan is.

Yolanda Mjuza van dié groep skel buite die mansion­: “Ons as Singabalapha-lede bly hier, want ‘singabalapha’ beteken ‘ons hoort hier’ en ons hóórt hier.

“Soos julle kan sien op ons embleem is daar ’n Tafelberg, want ons hoort in die Kaap.”

Nog ’n Singabalapha-lid, Sibusiso Xangabela, sê: “Ek gaan vandag hier slaap. Ek is nie hier om die wet te gehoorsaam nie.

“Onwettig is my ander naam. Ek het al grond in Khayelitsha en Observatory onwettig beset.

“Ek gaan nie terug Khayelitsha toe nie. My vyfjarige dogter gaan hier in Kampsbaai grootword, nie in Khayelitsha nie.

“Khayelitsha is nie veilig nie. Jy kan enige tyd daar vermoor word. Kampsbaai is veiliger.”

’n Woordvoerder van die #WeSeeYou-veldtog, Kelly-Eve Koopman, sê hulle het ’n goeie rede gehad vir hul besluit om uit te trek.

Hergroepeer

Sy verduidelik: “Ons het die laaste tyd met verskeie lawyers gepraat wat vir ons regsadvies gegee het.

“Maar geen van hulle was bereid om ons in die hof te verteenwoordig nie.

“Niemand het ons struggle gehijack nie. Ons gaan eers hergroepeer en dan gaan ons die struggle hervat.”

Nog ’n lid van die #WeSeeYou-veldtog, Lethabo Hanong, sê op sy beurt hy het die afgelope drie weke die veiligste ooit in sy lewe gevoel.

Hanong sê: “Toe ek hier gewoon het, het ek geen vrees gehad om aan te trek soos ek wou nie. In Khayelitsha, waar ek vandaan kom, voel ek nie veilig genoeg om my rok aan te trek, make-up op te sit en mall toe te gaan nie.

“As ’n transgender persoon is daar altyd iemand wat dreig om die gayheid uit my uit te moer.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters