13 dae gelede
#KYK: Sewe vas ná roof by Promenade in Plain
Sewe rowers is Donderdagoggend deur die polisie by die Promenade-winkelsentrum gearresteer.  ~ Foto ter Illustrasie: André Damons

SEWE vermeende skelms wat hul luck wou try by die MTN-winkel in Promenade Mall in Mitchells Plain is deur die polisie in hul spore gestop.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval gisteroggend plaasgevind.

“Die lede was gou op die toneel. Met hul aankoms het hulle die rowers gesien toe hulle die winkel verlaat het. ’n Skietery het tussen die rowers en die polisie uitgebreek.”

Twee verdagtes is in die skietery gewond. Volgens ’n bron is een in die hand en die ander een in die rug gewond.

Die beseerdes is onder polisiebewaking na ’n naby geleë hospitaal vervoer terwyl die anders in hegtenis geneem is.

“Die verdagtes is almal tussen die ouderdomme van 20 en 40. Twee vuurwapens is in hul besit gevind. Sodra hulle aangekla is, sal hulle in die Mitchells Plain-hof verskyn.

Die waarnemende polisiehoof in die Wes-Kaap, Sindile Mfazi, het die lede geloof vir hul vinnige optrede. 


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters