2 maande gelede
Seun veg vir sy lewe ná kopskoot
Leo
Leo Williams  ~ Foto Verskaf

'N JONG seun veg tans vir sy lewe nadat hy na bewering tydens 'n protesoptog deur die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) in die kop geskiet is.

Leo Williams (11) van St Helena Baai is tans op life support in die Rooi Kruis-kinderhospitaal.

Volgens Thyrone Williams, 'n gemeenskapsleier, het die gemeenskap Vrydag 'n vreedsame diensleweringoptog gehou.

Hy vertel: "Die gemeenskap was heeldag nie gewelddadig nie. Agterna toe kom Pops uit die Paarl en begin skiet op die gemeenskap.

"Hulle het die mense oproerig gemaak en hulle het die polisie met bakstene gegooi. Pops het die mense tussen die huise gejaag en op hulle geskiet.

"Die seun het by sy oom in 'n hokkie gesit toe hy in die kop getref is."

Volgens Williams het die dokter gesê hulle moet hulle vir die ergste voorberei.

"Die dokters het gesê dit lyk glad nie goed nie.

"Hulle doen alles wat hulle kan.

Volgens 'n polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, ondersoek die polisie tans die omstandighede rondom hoe die seun gewond is.

Traut sê: "Vrydag is ons lede na Laingsville in St. Helena ontplooi na 'n optog waar gemeenskapslede tyres in die strate gebrand het.

"Nadat ons magte uit die area onttrek is, is ons ingelig dat 'n elfjarige seuntjie van Bigoniastraat 'n kopwond opgedoen het.

"Daar moet nog vasgestel word hoe hy die wond opgedoen het."

Die omstandighede rondom die voorval word deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek, sê Traut.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters