Verlede maand
#KYK: Seun sterf ná tronkselle
Francis Lewis
SEER: Francis Lewis sê sy probeer deur die pyn werk, maar sy vind dit baie moeilik. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ Jonathan Lestrade

’N MA van Klapmuts voel sy het haar kind na sy dood gelei toe sy die polisie laat kom het om hom te kalmeer.

Francis Lewis (49) het op 8 Julie die polisie laat kom toe haar seun Rodwille Lewis (31) en sy vriend Melvin Brown (36) oproerig geraak het.

“Rodwille en Melvin het dronk hier aangekom. My seun het perform en ek het hulle uitgesit. Ek het my dogter gevra om die polisie te bel, want hy het aan my deur begin kap,” sê Lewis.

Volgens haar het die een cop Rodwille teen die van gedruk en hom begin wurg.

“Ek sê toe vir die polisieman dat ek hulle nie gebel het om my kind te choke nie. Ek het hom net gevra om hom rustig te maak,” sê sy. Die twee is toe met die hulp van Lewis en haar dogter in die van gesit.

“Hulle het hier weggery, maar die volgende oggend het Melvin kruip-kruip alleen hier aangekom. Hy het vir my gesê dat my kind nie kan loop nie, hy lê in die selle.

“Ek is toe daardie middag af polisiestasie toe. ’n Polisievrou sê toe vir my dat hulle my seun hospitaal toe geneem het.

“Ek sê toe vir haar: ‘Julle het my kind heel gekry.’ Sy sê toe vir my dat ek nie vir haar vrae moet vra nie,” sê Lewis huilend.

Haar seun is die volgende dag ontslaan.

“Hy het my vertel dat die polisie hom geslaan het. My familie moes hom tot in die kar dra en ook toe hulle hom na my ma se huis in Delft geneem het.

“Hy het gekla dat sy kop en maag nie reg voel nie. Hy kon ook nie sy hande gebruik nie,” sê sy.

Sy sê hy het beserings aan sy kop opgedoen en dit was erg opgeswel.

“Hy het knoppe op sy kop gehad,” sê sy.

Lewis sê haar seun is vyf dae ná dié slanery by die huis dood.

“Ek weet ek het nie my kind geslaan nie. Ek het vir hulle ’n heel kind gegee en hulle het vir my ’n verlamde kind teruggegee.

“Die oggend voor hy dood is, het ’n kaptein gebel. Ek het gehoor hoe my kind sê: ‘Dit is nie my ma nie, dis jóú mense wat my so geslaan het.’ ”

Gesleep

Brown sê hy het eerste by die van uitgeklim en toe by een van die twee cops sy eerste hou op sy oog gekry.

“Hulle het my tot binne-in die charge office gesleep. Daar het hulle ’n ysterkas oopgemaak en yster paletjies, baseball bats en swart batons uitgehaal en my begin slaan,” sê Brown.

Terwyl hy aangerand is, was Rodwille nog in die van.

“Ek sien toe hoe hulle hom ook insleep en hom aanrand.

“Ek het heeltyd vir hom gesê hy moet hom flou hou, maar hy het die heeltyd geskree ek moet hom help.

“Ek kon niks doen nie, want die een polisiebeampte het met sy voet op my nek gestaan. Hulle het hom heeltyd met die baseball bats oor sy kop geslaan.

“Ek kon elke hou hoor. Hulle het ons natgespuit en weer geslaan. Daarna is ons by die selle ingesleep en weer natgespuit,” sê Brown.

Hy en Rodwille het albei gesukkel om te beweeg toe hulle na die selle gesleep is.

“Rodwille wou ’n bietjie water gehad het, maar dit was so moeilik omdat ek self nie krag gehad nie. Ek moes hom na die kraan toe trek en vir hom sê om sy mond onder die kraan oop te maak, maar dit was te moeilik.”

Vrygelaat

Hulle het later aan die slaap geraak en die volgende oggend kon hy sien dat Rodwille opgegooi het.

Brown sê toe hy vrygelaat is, het Rodwille vir hom gesê dat hy sy ma moet sê om hom te kom haal, want hy kan nie beweeg nie.

Forensiese span ondersoek sterfte

Sandra Maritz, die Wes-Kaapse gesondheidswoordvoerder in die Kaapse Wynlande-distrik, het gesê ’n persoon wat Rodwille se beskrywing pas, is op 9 Julie na die noodeenheid in die Stellenbosch-hospitaal gebring.

“Hy het gekla oor pyn in sy nek en rug. Ná ’n ondersoek en toetse was daar geen abnormaliteite duidelik nie. Hy is dieselfde dag ontslaan,” sê Maritz.

“Op 13 Julie is hy na die Klapmuts-kliniek gebring waar hy dood verklaar is. Die forensiese span bepaal nou die oorsaak van sy dood.

“Hulle sal ’n verslag aan die polisie en die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement lewer.

“Ons wag op die uitslag van die forensiese ondersoek. Ons sal aan die gesin terugvoer gee wanneer ons die verslag ontvang.”

Maritz voeg by dat die departement sy meegevoel met die gesin wil uitspreek.

Die nasionale woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat, Ndileka Cola, het gesê hulle eers ondersoek sal instel en daarna kommentaar lewer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters