Verlede maand
Seun in ICU oor steen teen kop
Hartseer: Angeline Mondo se dogter, Rozane, ondersteun haar.  ~ Jonathan Lestrade

“GUY Fawkes moet totaal geskrap word. Dit het my kind se toekoms van hom weggeruk.”

Só huil ’n ma, Angeline “Angie” Mondo. Sy rig dié pleidooi aan die regering nadat haar jongste kind op Guy Fawkes op life support geëindig het nadat iemand hom met ’n baksteen gegooi het.

Die 14-jarige Chadwin het Dinsdagmiddag met sy vriende in Heinz Park in die Kaap in die straat gespeel toe ’n baksteen in hulle rigting vlieg.

Die baksteen het Chadwin aan die regterkant van sy kop getref. Hy het onmiddellik bewusteloos omgeslaan.

Angie sê sy was by die werk toe sy die oproep kry wat straks die res van hulle lewe gaan verander.

“Hulle het my net gesê Chadwin lê in die pad en hy is unconscious. Hy is toe Groote Schuur toe geneem.

“Daar het hulle my ingeroep om te sê as gevolg van die impak het hy breinskade opgedoen.”

Dis na bewering ’n groot man wat die baksteen na die kinders gegooi het.

Angie sê sy weet haar kind het ook Guy Fawkes in die pad gespeel, maar sy kan nie verstaan hoekom die ou dit gedoen het nie.

Weggehardloop

“Hy woon nie eens hier nie.

“Die kinders het nie eens so gevaarlik met mekaar gespeel nie. Steeds het hy die baksteen gegooi.

“Die verdagte het weggehardloop, want die gemeenskap wou hom beetkry.”

Angie sê toe sy haar kind in die hospitaal sien, het haar hart gebreek. Hy het groot drome gehad.

“Hy wou ’n sokkerspeler word. Hy het vir sokker ge­lewe, maar nou het Guy Fawkes­ sy drome weggestrip.

Quinton Abrahams, Chadwin se coach, het die gesin gister besoek.

By Son se besoek het hy ’n paar keer baie emosioneel geraak terwyl hy oor sy ster-speler gepraat het.

“Daai kind was gehoorsaam. Hy was wel soos enige kind wat die dag wou geniet, maar hy het altyd na jou geluister.”

Abrahams het gesê Chadwin, ’n striker vir Heinz Park FC, is vanjaar in drie kategorieë vir toekennings benoem.

Daar is wel een ding waaroor die hele gemeenskap, sokkerspan en familie saamstem: Chadwin sal sterker anderkant uitkom.

“Ons het hoop dat hy uit die koma sal kom en dat hy sy drome sal waar maak.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters