21 dae gelede
Ses wag op vonnis
STRAF KOM: Altesaam 6 van die 12 lede van die Terrible Josters hoor volgende week hul lot.  ~ Foto ter illustrasie

SY VONNIS sal ’n knock-on effek op baie mense hê.

Só het Horatio Solomon die vermeende leier van die Terrible Josters-bende, se regsverteenwoordiger gister in die Kaapse hooggeregshof gesê.

Dié regsverteenwoordiger, wat anoniem wil bly, het in die voorvonnisverrigtinge aan die hof gesê sy kliënt se vonnis sal ’n ernstige impak op sy sewe minderjarige kinders hê.

Die advokaat het regter Owen Rogers gevra om alle faktore in ag te neem en die menslike kant van sake te oorweeg wanneer hy tot ’n vonnis kom.

Hy het ook gevra om nie toe te laat dat sy kliënt sonder hoop gelaat word wanneer hy gevonnis word nie.

Solomon se regsverteenwoordiger het ook aan die hof gevra om genade te betoon en die vonnisse gelyk­lopend te maak.

Solomon en 11 van sy vermeende bende-broers loop al langer as ’n jaar hof.

Hulle het op 71 klagte in die Kaapse hooggeregshof verskyn.

Dit sluit klagte van moord, poging tot moord en dwelmsmokkelary in.

Altesaam 6 van die 12 beskul­digdes is vrygespreek.

Solomon en sy regterhand, Ismail Ockerts, is albei skuldig bevind op ’n klag van moord.

Die twee word verbind aan die moord op Vernon Botes, wat op 29 Junie 2015 in Belhar afgemaai is.

Die twee is ook skuldig bevind op ’n klag van dwelmsmokkelary.

Ockerts se regsverteenwoordiger het aan die hof gesê haar kliënt is ’n pa van ses kinders en was 23 jaar oud toe die oortreding plaasgevind het waarvoor hy skuldig bevind is.

Sy regsverteenwoordiger het gevra dat Ockerts se ouderdom tydens die oortredings in ag geneem word wanneer hy gevonnis word.

Vermoor

Ockerts se lawyer verteenwoordig ook beskuldigde nr. 11, Keenan Kruger (25), asook beskuldigde nr. 12, Lucian “Lurkie” Consul (24).

Kruger en Consul is skuldig bevind op twee klagte van moord, insluitend die moord op Victor Browers.

Hy is op 13 Desember 2016 in Halt­weg, Elsiesrivier, vermoor.

Hulle is ook skuldig bevind aan die moord op George Stevens, wat op 4 Februarie 2016 in Adriaanselaan in Clarkes Estate, Elsiesrivier, gepleeg is.

Hul regsverteenwoordiger het die hof gevra om hul jeugdigheid in ag te neem wanneer hulle gevonnis word, asook die tyd wat hulle in aanhouding was en dat ál haar kliënte se vonnisse gelyktydig moet loop.

Intussen het beskuldige nr. 9, Fabian Constable, se regsverteenwoordiger die hof gevra om sy kliënt se ouderdom in ag te neem wanneer hy gevonnis word. Constable is nou 28, maar was 21 jaar oud toe die oortredings plaasgevind het.

Hy is skuldig bevind op twee klagte van poging tot moord, die besit van ’n vuurwapen en die besit van ammunisie. Sy advokaat het gevra dat sy vonnisse ook gelyk­lopende moet wees.

Versoek

Verder het Ziyaad Safodien se regsverteenwoordiger aan die hof gesê sy kliënt het twee minderjarige kinders en geen vorige convictions nie.

Hy het aan die hof gesê sy kliënt was 23 jaar oud gedurende die tyd van die oortredings. Hy’s nou 28 jaar oud.

Safodien is skuldig bevind op klagtes van pogings tot moord, besit van ammunisie en besit van n vuurwapen. 

Sy regsverteenwoordiger het die hof ook versoek om sy ouderdom in ag te neem en om die vonnisse gelyk­lopend te maak.

Die skuldiges word nou op 12 Oktober gevonnis.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters