Verlede maand
Ses skote eis man
HARTSEER: Nadia Bezick (33) vertel van haar man se laaste oomblikke.  ~ Melinda Stuurman

“JAH slaap nie.”

Dis die woorde van ’n Rasta-vrou wat vandeesweek haar man weens geweld verloor het.

Nadia Bezick (33) vertel hoe sy Maandag gesien het hoe haar man, Franklin “I Boy” Bezick (34), sy laaste asem uitblaas.

“Dit was net ek en hy by sy stalletjie op die hoek van Leidenweg en Kaapstraat in Delft toe hy verskeie kere genadeloos geskiet is.

“Hy is op die toneel dood.”

Nadia sê sy was agter die stalletjie toe sy ’n paar skote hoor afgaan.

Sy voeg by: “Ek het plat op die grond gaan lê, want ek het gedink die skote kom van agter af.

“I Boy was ’n baie sterk man gewees. Hulle het hom ses keer geskiet.

“Maar hy het steeds tot by die agterkant van die stalletjie gekom waar hy inmekaargesak het.

“Toe ek by hom kom, toe sê ek: ‘Ahoy! I!’ Toe gee hy twee rukke en toe blaas hy sy laaste asem uit.”

Nadia gaan voort: “Die system het my gefail.

“Hy was iemand wat aan die gemeenskap gegee het en die polisie was nie daar om hom te beskerm nie.

“Hy was ’n peaceful man. Hy het nie verdien om só van my weggevat te word nie.

“Al wat ek kan sê aan diegene wat dit gedoen het, is Jah slaap nie.”

Volgens haar het Rastas in die area Dinsdag na vermeende gangsters se huise gemarch.

“Hulle sê hulle soek jus­tice vir I en hulle is nog nie klaar nie,” verduidelik Nadia.

“Maar daai het niks met my te doen nie.

“Ek gaan sy stalletjie weer volgende maand oopmaak en dit na hom vernoem.”

Inligting

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, bevestig die voorval.

Enige iemand met inligting oor die moord word gevra om die Delft-polisiestasie te kontak by 021 954 9011 of Crime Stop by 086 001 0111.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters