5 maande gelede
Senior burgers wag 38 j. vir huis
erge lang wag: Johnny Witbooi was 28 toe hy die eerste keer aansoek gedoen het om ’n huis.Foto’s: ELDRIDGE JASON  ~ 

MOEG gewag op ’n huisie van hul eie – dít is Johnny Witbooi (66) en sy vrou, Susan (65), van Bishop Lavis in die Kaap.

Johnny sê hy en sy vrou is al 38 jaar op die behuisingswaglys. Dít is byna vier dekades dat hulle “met ’n seer hart” wag.

Hy vertel: “Ek het vir die eerste keer op 19 April 1981 aansoek gedoen vir ’n huis by die ou civic in Elsiesrivier.

“Sedert daardie tyd is ek nooit gekontak nie en toe ek in 2010 aftree, het ek begin navraag doen.”

Johnny beweer die behuisingsamptenare het met allerhande verskonings vorendag gekom oor hoekom hy steeds op die behuisingswaglys is.

Hy sê: “Hulle sê hulle kon my nie in die hande kry nie – ek weet nie hoe dít moontlik is nie.

“Daar is toe gesê ons kan een van die flêtse kry, maar met haar mediese toestand kan my vrou nie trappe klim nie.

kampvegter: Mike Hoffmeester is die voorsitter van die Bishop Lavis Backyarders’ Forum.Foto: WILLIAM MCINTOSH

“Ons is nie ondankbaar nie, maar op ons ouderdom wil ons darem ook nie in ’n onveilige area gaan bly nie.”

Johnny en sy vrou, wat albei pensioentrekkers is, bly in ’n wendy-huis­ waarvoor hulle R2 800 per maand rent moet betaal.

Hy sê: “Ons pensioen saam is maar R3 000 ’n maand.

“So, met net R200 oor kan jy net imagine­ dat ons sukkel.

“Ons kan nie aftree nie. So, ons moet op ons oudag nog werk ook.”

Johnny sê verontwaardig hy en sy vrou moet hul ding nog in ’n emmer doen omdat hulle nie toiletgeriewe het nie.

Uitgestel

Mike Hoffmeester, die voorsitter van die Bishop Lavis Back­yarders’ Forum­, sê aansoekers “wag met trane­” op huise.

Hoffmeester voeg by: “Meer as twee jaar gelede sou ’n be­huisings­projek begin word. So 770 een­hede sou gebou word.

“Dié projek is egter uitgestel weens gangsterism in die area.

“Toe is daar weer gesê die projek sal in Mei afskop en dat in Desember en Januarie begin sal word met die skoonmaak van die grond, maar niks het nog gebeur nie.

“Hier by ons is mense wat al meer as 30 jaar lank op huise wag. Johnny en sy vrou wag die langste.”

Son op Sondag wou Donderdag by Ntomboxolo Makoba-Somdaka, ’n woordvoerder van die provin­siale behuisingskantoor, hoor hoekom aansoekers soos Johnny so lank moet wag.

Makoba-Somdaka het egter laat weet dat sy met siekverlof is en dat sy Son op Sondag se navraag oor dié voorval na haar kantoor verwys het.

Teen druktyd het niemand van haar kantoor egter al op ons vrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters