Verlede maand
Selfmoordsyfer styg skerp
Kol. Andrè Traut  ~ Netwerk24

SELFMOORDSYFERS in die Wes-Kaap skiet skrikwekkend die hoogte in.

Dis die geval vandat die corona-virus-pandemie begin het en die lockdown-regulasies daarna gevolg het.

Baie mense het weens die verlies van werk, eensaamheid en algemene druk van die samelewing verkies om hul eie lewe te neem.

’n Werknemer by Crime Scene­ Solutions sê selfmoorde raak nou meer en meer hul daaglikse brood.

Dié werker, wat anoniem wil bly, sê voor die pandemie sou hulle een of twee selfmoord­tonele hanteer, maar nou doen hulle sommer drie per dag.

Die werknemer sê dit is meestal mans in die ouderdom van hul laat 20’s tot 60’s wat selfmoord pleeg.

“Die meerderheid van hulle kom uit die middelklas en hoëklas,” voeg hy by.

“Dit gaan egter nie net oor ekonomiese redes nie.

“Mense ly aan depressie weens eensaamheid en die onsekerheid oor wat die toekoms vir hulle inhou.”

In die mees onlangse voorval het ’n 59-jarige man Maandagoggend selfmoord gepleeg by die Bellville-polisiestasie.

Geopen

Volgens ’n polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, het die man hom omstreeks 11:30 met sy eie vuurwapen doodgeskiet.

’n Geregtelike doodsondersoekdossier is geopen, voeg Traut by.

Volgens ’n bron na aan die ondersoek het die man wat selfmoord gepleeg het, geen tekort aan materiële besittings gehad nie.

“Hy het in ’n spoghuis gebly en het ’n BMW gery,” sê die bron.

Son verneem verder die man sou sy vuurwapen by die polisiestasie ingeneem het as deel van die SAPD se vuurwapen­amnestie-inisiatief.

Mark van der Heever, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid, sê daar is hulp beskikbaar by provinsiale fasiliteite vir mense wat geestes­gesondheidsdienste benodig.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters