10 dae gelede
Selfmoorde lê Vanwyksdorp lam
TRAGEDIE: Nóg ’n Vanwyksdorper het selfmoord gepleeg deur homself te hang.  ~ Foto ter illustrasie: iStock Images

VANWYKSDORP. – Die seer van selfmoord in hierdie klein dorpie wil maar net nie genees nie.

Want terwyl inwoners nog besig was met Nuwejaarsvieringe, het ’n vierde selfmoord die grond onder inwoners se voete uitgepluk.

Die gewilde Thys “Thysie” Makriga (31) se lyk is op Nuwejaarsdag aan ’n tou in ’n hokkie gevind.

Landi Makriga, sy suster, het aan Son gesê: “Dis darem nog te seer om hieroor te praat. Ons voel nie om met die media hieroor te praat nie. Dit was vir ons almal ’n skok.”

Vroeg in September laas jaar is die dorp geruk met die selfmoord van Juliana Cloete (33), ’n ma van drie jong kindertjies.

Volgens die cops het sy gif gedrink.

Dit het die dorpie in rou gedompel.

Hartseer

Enkele dae later het die kranige rugbyspeler Justin Wildskutte (28) homself gehang.

En terwyl hartseer inwoners daardie Saterdag­oggend nog geween het oor Wildskutte, wat net die vorige week selfmoord gepleeg het, het die selfdood van Ashwin Swanepoel, ’n geliefde hoërskoolleerder, die gemeenskap van voor af in trane gehad.

Luidens inligting het Swanepoel se familie die vorige aand na hom gaan soek. Sy lyk is die volgende oggend in ’n boord op ’n plaas gevind.

Verskeie organisasies het reeds ingegryp om jong mense te probeer weerbaar maak.

Son het selfs ’n berig gedra waarin Quinton Adams, kliniese sielkundige, wenke aan jong mense en inwoners van die dorp gegee het.

Kapt. Malcolm Pojie, ’n polisiewoordvoerder, het in ál vier gevalle bevestig dat die polisie geen misdaad vermoed nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters