2 maande gelede
Sat vir nat flat
PAP NAT: Dit is hoe dit lyk in een van die woonstelle wat Coby Alexander onlangs besoek het in Parow Park. Die mure is beskadig as gevolg van die nattigheid wat die mure laat muf.  ~ Verskaf

DIE kamermure is so nat dat sy dogter saans op die bank in die voorkamer moet kooi maak.

Coby Alexander, inwoner van Parow Park, sê dis onaanvaarbaar dat die Stad Kaapstad nie aandag gee aan die talle probleme wat inwoners van die blok flêtse ervaar nie.

Alexander pak uit: “Ek woon al 20 jaar hier en is bewus van meeste van die mense se probleme.

“In 90% van die gevalle gebeur daar niks nie. Dan moet mense letterlik baklei om iemand te kry om te kom fix,” sê hy.

Alexander sê hy’t twee jaar gelede agtergekom daar is klammigheid in sy hoofslaapkamer, sy dogter se kamer en badkamer. Hy het dit by die behuisingskantoor aangemeld op die perseel van die Stad Kaapstad.

“Hulle het eers net daaroor kom verf. Twee jaar terug het hulle my kamermuur replaster en oor geverf. My dogter se kamer moes ook gedoen word, maar ons sit nog met dieselfde probleem.”

Alexander sê in die winter is dit erg. “Sy slaap nou in die voorkamer. Haar kamermure is vol muf en ook die hangkas.”

Benewens Alexander se eie pro­bleme, het hy dit op hom geneem om ander inwoners met klagtes te help.

“In die verlede het huurders nie ’n verwysingsnommer gekry as klagtes ingedien is nie. Ek gaan self kantoor toe om daai nommers te kry.

“Die klammigheid is die blok flats se grootste probleem, asook die verf wat afdop.”

Pleidooi

Inwoners raak siek, sê hy.

“Daar is inwoners wat al vyf jaar gelede klagtes aangemeld het wat nog nie aandag gekry het nie. Ek het foto’s geneem as bewyse.”

Alexander sê baiekeer is die attitude ook nie lekker as inwoners klagtes gaan aanmeld by die behuisingskantoor nie.

Sy pleidooi is dat maintenance nie “neverminded” gedoen moet word nie, maar deeglik.

Hy voeg by die behuisingskantoor sluit sommer weekdae 13:00 en is Vrydae gesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters