3 maande gelede
SAMRK wil ingryp vir haweloses
Chris NissenFoto verskaf  ~ 

’N KOMMISSARIS van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK), Chris Nissen, en die burgemeester van Kaapstad, Dan Plato, vergader vandag.

Op die agenda is die kwessie van haweloses, bepaald dié wat op straat slaap.

Opslae is gemaak nadat berig is dat haweloses wat op straat slaap, beboet word.

Nissen sê hy hoop hy kan die stadsraad tot ander insigte oorreed op dié vergadering.

Hy sê hy het verlede week al ’n vergadering met die raad versoek, maar dié het toe nie gereageer nie.

Nissen bestempel dié munisipale wet (by-law) as onmenslik.

Dis nadat hy straatslapers in die stad laas week uitgevra het oor hulle omstandighede.

Onwelkom

Nissen sê: “Van hulle is oud en sieklik, en om by familie te bly is vir baie van hulle ook nie ’n opsie nie.

“Dis omdat hulle onwelkom is omdat hulle in die tronk was.

“Baie van hulle sê hulle is bang, want hulle weet nie hoe hulle die boetes gaan betaal nie.

“Die meeste sê hulle sal maar tronk toe gaan.”

Nissen sê hy het ook gepraat met die beamptes wat die by-law nou afdwing.

Hy sê van hulle wil dit nie doen nie oor dié mense desperaat is.

Een van die beampte het aan Son gesê hulle is veronderstel om op ysige nagte die mense se komberse en bokse te konfiskeer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters