13 dae gelede
Saak vorder ‘dreig-dreig’
SUPPORT: Lede van die groep Gatvol Pay Back the Money het Christopher Martin (tweede van links) by die hof kom ondersteun. Van links is Mildred Josephs, Martin, sy lawyer, Eugene Miller, en Cecil Swarts.  ~ Foto Verskaf

’N STASIEBEVELVOERDER wat ’n interdik wou kry teen ’n belegger wat saam met die Valke aan die David “Oompie” Cupido-saak werk, wil nou skik.

Kol. Charlie Meiring het aansoek gedoen om ’n interdik nadat Christopher Martin hom op 4 November laas jaar gekontak het om ’n verklaring aan die Valke te gee.

Dié twee het Donderdag in die Tulbagh-landdroshof verskyn.

Meiring, die stasiebevelvoerder van die Tulbagh-polisiestasie, het destyds geld vir Cupido, die meesterbrein agter Fourth Power Investments, ingevorder.

Meiring het dié feit in ’n verklaring erken, maar voeg by hy het nooit besef Fourth Power is eintlik ’n onwettige Ponzi-skema nie.

Meiring het besluit om die weerhoudingsbevel aan te vra oor hy beweer Martin dreig en teister hom.

Hy sê Martin gebruik die sosiale media om dit te doen en hy sal die video’s ter stawing aan die hof voorlê.

Maar Martin het daarna teruggekap en gesê toe hy Meiring gebel het, was dit Meiring wat hóm gedreig het.

Meiring het nou in ’n nuwe verklaring erken hy het wel in ’n telefoongesprek Martin se adres gevra, maar dit was nooit ’n dreigement om hom seer te maak nie.

Sy verklaring lees: “Ek dink sekerlik nie die ondersoekbeampte in die saak het die respondent opdrag gegee om my te kontak en inligting van my te kry nie.

“Ek het dan voor 4 November 2020 kontak met die ondersoekbeampte gemaak en aan hom die nodige inligting verskaf.

“Gedurende die telefoniese gesprek het die respondent my geïntimideer en getreiter.

“Hy is nie ’n lid van die Suid-Afrikaanse polisie om my van enige beweerde misdaad te beskuldig en te ondervra nie.

“Ek het die respondent ingelig ek gesê ek het niks om vir hom te sê nie en ontken dat ek op die respondent geskreeu het.

Bevel

“Gedurende hierdie gesprek en die gesprek daarna het ek aan die respondent gesê ek sal hom wys wat ek met hom sal doen en vir sy adres gevra.

“Die doel was nie om die respondent seer te maak nie, maar sodat ek ’n bevel teen hom kon kry.”

Martin sê aan Son hy kan nie verstaan hoe Meiring nou die een is wat wil skik nie, want Meiring is dan die een wat die interdik teen hóm wou kry.

Hieroor sê hy: “Ons is ingelig hy wil nou skik, maar hy wil nie my regskostes dek nie. Sou ons skik, sal daar van hom verwag word om ten minste dít te doen.

“Hulle wil nou net hê die saak moet van die hofrol geskrap word en dit werk ongelukkig nie so nie. Ons sal voortgaan met die saak.”

Meiring het laas aan Son gesê hy kan nie kommentaar lewer nie oor die saak in die hof is.

Die saak gaan op 30 Julie voort.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters