13 dae gelede
Saak gaan na 'veiliger' hof
WEG: Zane Kilian se mohawk is nou toegegroei.  ~ Foto Verskaf

AS DIE staat onseker was van sy saak teen Zane­ Kilian, sou hy nie borgtog teenstaan nie – en Kilian sou lankal ’n vry man gewees het.

Só het Eric Ntabazalila, woordvoerder, van die Nasionale Vervolgingsgesag, gister ná Kilian se laaste verskyning in die landdroshof in Bishop Lavis benadruk.

Kilian, ’n voormalige rugbyspeler wat die laaste tyd sy lyf private speurder hou, loop hof vir die moord op lt.kol. Charl Kinnear.

Kinnear was ’n top cop by die polisie se teenbende-eenheid (AGU) toe hy op Vrydag 18 September voor sy huis doodgeskiet is.

Kilian is by sy huis in Springs in Gauteng in hegtenis geneem.

Die staat voer aan hy het Kinnear se bewegings dopgehou deur sy foon te track. Na verneem word het Kilian op die noodlottige dag nog tot 15:00 Kinnear se foon getrack – toe Kinnear ’n boodskap gestuur het om te sê hy is amper tuis.

Kinnear is enkele minute ná daardie boodskap voor sy huis geskiet.

Twee ander klagte staar Kilian ook in die gesig – sameswering om moord te pleeg en die onwettige onderskepping van kommunikasie.

NUUSKIERIG: Inwoners van Bishop Lavis drom saam om Zane Kilian te sien. Foto: Jonathan Lestrade

Nutteloos

Kilian se saak is gister na die Bellville-streekshof oorgeplaas nadat bevind is die Bishop Lavis-hof in Myrtle-weg hou ’n veiligheidsrisiko in. Beide partye het die oorplasing verwelkom.

Ntabazalila wou nie uitwei oor wat die Bellville-hof veiliger maak as Bishop Lavis s’n nie. “Wel, as ek daaroor moes uitwei, is die doel van die oorplasing nutteloos.

“Ek kan ook nie oor sekuriteitskwessies praat nie.”

Kilian se borgtogaansoek sal na verwagting op 26, 27 en 30 Oktober aangehoor word. Sy lawyers het reeds dokumente ingedien wat aandui dat hy ’n private speurder is en dat hy binne sy reg handel om mense se selfone te track.

Ntabazalila sê: “Kilian loop hof omdat daar ’n saak is waarop hy antwoord moet gee. As ons nie bewyse teen hom gehad het nie, sou hy nie aangekla gewees het nie.”

REG VIR AKSIE: Swaar gewapende polisiebeamptes van verskeie eenhede bewaak gister die hof. Foto: Jonathan Lestrade

Buite die hof het inwoners vergeefs probeer om Kilian te midde van al die gewapende polisie en polisievoertuie te sien. Hulle was ook nie ingenome om te verneem dat die saak oorgeplaas is omdat Lavis onveilig is nie.

“Kyk waar staan ons en waar sit hy. Hulle moet ons beskerm, want hy (Kilian) is die gevaarlike een.”

Intussen werk die Valke dag en nag aan die moordondersoek, sê brig. Hangwani Mulaudzi, ’n woordvoerder.

Leidraad

By navraag oor gerugte in die sosiale media dat Kin­near se skieter vermoor is, het hy gesê: “As dit die geval was, sou ons dit geweet het.

“Ons volg elke leidraad op wat met Kinnear se moord verbind word, maar ons dra nie daarvan kennis nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters