2 maande gelede
SA se medics trek erg swaar
GEREED VIR ERGSTE: Só is die CTICC met beddens ingerig tydens die eerste vlaag van die pandemie.  ~ Melinda Stuurman

MET die tweede vlaag van die corona-virus in ’n nuwe vorm is die hospitale in Suid-Afrika aan’t sukkel.

Dis ook nou die feestyd, waar mense met mekaar meng en dit maak dat die virus meer vatplek gaan kry om die land uit sy nate te ruk.

Privaat hospitale het reeds gesê hulle gaan deur ’n moeilike tyd.

Netcare Ltd, Life­ Healthcare Group en Mediclinic International PLC – Suid-Afrika se drie grootste privaat hospitale – sê hulle het reeds ’n tekort aan beddens.

Charl van Loggerenberg, Life Healthcare se algemene bestuurder van noodmedisyne, sê meer pasiënte wat die virus het, kom in en dit plaas hulle onder druk.

“Dis veral in KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap en die Oos-Kaap waar ons uitdagings het.”

Die virus is al by meer as 930 000 Suid-Afrikaners gediagnoseer en 25 000 het reeds gesterf.

Die meeste locals (6 253) het in die Oos-Kaap gesterf. Die Wes-Kaap is tweede met 5 577 sterftes en Gauteng derde met 5 196.

Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, het Dinsdag gesê die gesondheidstelsel is onder helse druk en die frontline-werkers sukkel.

“Ek was by hospitale in Mitchells Plain en Khayelitsha en mens kan sien die gesondheidswerkers is uitgeput.

“Hulle veg nou reeds nege maande lank teen die virus en nou is die tweede golf hier.”

Volgens Winde word die gesondheidswerkers ook aangesteek en hulle steek weer hul mense tuis aan.

“Dit is ons plig om saam te werk en te keer dat die virus verder versprei,” het Winde laat hoor.

“Baie mense hou nie by die reëls nie en die virus word versprei.”

Volgens Winde help dit nie as daar nie genoeg dokters en verpleegsters is nie, al is daar genoeg beddens.

Klinieke

Die Stad Kaapstad sê in ’n verklaring die hospitale en gesondheidsfasiliteite is onder geweldige druk.

Mense word ook gevra, as die noodgeval nie so groot is nie, om eerder na klinieke te gaan as na die oorvol hospitale.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters