2 maande gelede
Rye nie meer so erg lank
VERBETERING: Die ry buite die Sassa-kantoor in die Bellville-middestad is korter as laas week.  ~ Anele Mfazwe

DINGE verbeter stadig maar seker by die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se Bellville- tak.

Hoewel mense steeds buite die gebou oornag, was die ry gister by Son se aankoms aansienlik korter in vergelyking met Son se vorige besoek laas Vrydag.

Sharon Newman, ’n gestremde vrou van Elsies­rivier, sê sy was laas week ook by Sassa se Bellville-kantoor.

Sy is aangesê om gister terug te kom, verduidelik Newman.

Sy voeg by: “Dis die eerste keer in 11 jaar dat ek verplig word om my disability grant te hernu. Ek was toe Vrydag hier gewees.

“Ons moes net so in onse spore omdraai, want daar is aan ons gesê die stelsel is offline.

“Maar at least is daar vandag hoop dat ons gehelp gaan word.”

Volgens Newman moes sy Maandagaand buite die Sassa-kantoor oorslaap om ’n goeie spot gister in die ry te kon verseker.

Dankbaar

Sy sê verder dit was omtrént ’n storie met die honderde mense wat ook daar oorgeslaap het.

Sy kla dat sommiges van hulle sommer net daar in die openbaar urineer oor daar geen toiletgeriewe vir hulle is nie.

Newman voeg by: “Ons het darem gisteraand (Maandag) ’n bord akni gekry van iemand wat charity-werk doen.

“Daarvoor is ek baie dankbaar, want dis duidelik dat die regering nie oor ons worry nie.”

Caroline Lakey van Goodwood vertel sy moes noodgedwonge gister weer na die Sassa-kantoor terugkeer nadat sy Vrydag ook moes omdraai sonder om gehelp te word.

Lakey sê sy het kom aansoek doen om voogdyskap van haar neef.

“Dis beter as die vorige kere wat ek hier was, want Vrydag was ook nie my eerste keer hier nie.

“Dit lyk ons sal vandag (Dinsdag) nog gehelp word, want die ry beweeg darem aansienlik aan.”

Intussen sê ’n Sassa-woordvoerder, Zolile Ndevu, die Wes-Kaap het buitengewoon baie aansoeke om tydelike disability grants gekry. Daar hang vir Sassa baie vraagtekens in die lug oor die getal aansoeke.

Volgens hom het 210 000 begunstigdes se tydelike gestremdheid-toelae in Desember verval.

Die Wes-Kaap is die provinsie wat die hardste getref is en het die grootste getalle, wat self groter provinsies soos KwaZulu-Natal en Gauteng oortref.

Oor die tendens en die Wes-Kaap se hoë aantal aansoeke wat bevraag­teken word, sê die woordvoerder die Universiteit van Kaapstad is besig met navorsing hieroor.

“Die navorsing sal regtig help om die gestremdheid-omgewing in die Wes-Kaap beter te verstaan,” sê Ndevu verder.

Hy voeg by dis ’n wanpersepsie dat die verantwoordelikheid by Sassa lê om begunstigdes van tydelike disability grants op te spoor as hulle nie vir herevaluering opgedaag het nie.

Applikant

“Die toelae is toegestaan op ’n tydelike basis.

“Dis gebaseer op die aard van die applikant se mediese toestand,” verduidelik hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters