3 maande gelede
Rye is nie vir ma’s en babas

“ONS moet die stelsel verander sodat ma’s en hul babas nie in die Sassa-ry hoef te staan nie.”

Só het Lindiwe Zulu, die minister van maatskaplike ontwikkeling, Donderdag by haar besoek aan die Sassa-kantoor in Bellville gesê.

“Pa’s moet verantwoordelikheid vat,” het sy aan al die ma’s in die ry buite die kantoor gesê.

Zulu sê dinge moet ver­ander sodat daar nie ma’s en baba’s in die ry hoef te staan en wag nie.

“Ons kyk hoe ons met verskillende organisasies soos binnelandse sake kan connect sodat mammies nie na die kantore hoef te kom om aansoek te doen nie,” sê sy.

Verder noem sy sy kan sien daar is verandering en dinge lyk beter, maar dis nie genoeg nie.

Met Son se aankoms by die kantoor is daar stoele aan die mense verskaf, asook ’n waterpunt.

Daar was nog heelwat mense wat buite op die sypaadjie gesit het, maar nie so baie soos voorheen nie.

Totsie Memela-Khambula, Sassa-bedryfshoof, sê hulle wil graag met gesondheidsfasiliteite saamwerk sodat ma’s dalk eerder daar hul Sassa-dienste kan ontvang. “Dit is waar babas gebore word,” sê sy.

Vinniger

Memela-Khambula sê deur elke dag ’n gespesialiseerde dag te maak, is die druk op die stelsel verlig.

“Ons kan nou sien daar is minder mense in die rye en die proses verloop vinniger.”

Memela-Khambula voeg by hulle het ook stoele verskaf, maar dit is nie genoeg nie en daar sal nóg stoele afgelaai word by die verskillende kantore.

“Ons maak ook seker die toilette is skoon omdat dit ook vir mense hul dignity gee.

“Jy kan nie heeldag sit en nie die toilet gebruik nie,” verduidelik Memela-Khambula.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters