Verlede maand
Ruiters soek kid se organe
Beskuldigdes: Ameerudien Peters en Abigail Ruiters staan tereg vir moord.Foto: PETER ABRAHAMS  ~ 

DIE moordbeskuldigde Abigail Ruiters wil weet waar haar dooie seun, Jeremiah, se organe is en wanneer sy dit dan kan terugkry.

Sy het dié vraag deur haar regsverteenwoordiger, adv. Yasmin Rajab, tydens kruisondervraging aan die staatspatoloog Marna du Plessis gevra.

Du Plessis het getuig hulle hou enige weefsel totdat die saak afgehandel is.

“Ek weet nie of ons al ’n versoek soos hierdie gehad het nie, maar ek dink nie daar sal beswaar wees nie.

“Dit hang ook af van die wette en verordeninge,” het Du Plessis gesê.

Hierdie getuienis van Du Plessis het Ruiters laat glimlag.

Die 17 maande oue Jeremiah se ma staan tereg vir sy moord, asook die mishandeling van sy twee ouer sussies.

Ruiters se medebeskuldigde, Ameerudien Peters, staan tereg vir dieselfde misdade.

Rajab het Du Plessis onder kruisondervraging gepols oor die beserings aan die slagoffer se mond.

Sy het aangevoer luidens die kliniek se rekords het die kind koorsblare gehad.

“Ek kan nie kommentaar lewer oor die rede waarom hulle dit gesê het nie.

“Ten tyde van die outopsie kan ek sê dat daar nie mondsere was nie, maar wel beserings wat deur stomp geweld veroorsaak is.”

Rajab het ook gevra oor die kind se neusbeserings en wou weet hoe vars dié beserings was.

“Ek sou dit skat op tussen 24 en 72 uur,” het die patoloog getuig.

Dier

Rajab het verder oor die kind se bytmerke gevra.

Sy het opgemerk dat Du Plessis voorheen getuig het sy kon nie uitmaak of dit deur ’n mens of dier veroorsaak is nie.

Die bytmerke waaroor Rajab gevra het, is op die kind se maag en die ander op sy arm.

“Kon dit deur ’n klein kind veroorsaak word?” het Rajab gevra.

Du Plessis het getuig dat sy nie ’n bytmerk-kenner is nie en nie daarop gaan kommentaar lewer nie.

“My kliënt sê haar dogter van drie was jaloers op die slagoffer en het hom gebyt,” het Rajab gesê.

Du Plessis het getuig dat dit moontlik kan wees, maar dat dit ook iets anders kon wees.

Rowe

Rajab het verder gesê volgens Abigail het die beserings aan die kind se penis as klein seertjies begin.

Daarna het rowe gevorm, wat afgeval het. Dis glo deur ’n nappy rash veroorsaak.

“Dit hou nie verband met dit wat ek gesien het nie en dis nié deur nappy rash veroorsaak nie,” het Du Plessis daarop geantwoord.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters