Verlede maand
Rowers verloor
HET JOU! Een van die vermeende rowers word weggelei.  ~ Foto Verskaf

EEN vermeende gewapende rower is dood en nog een is gewond nadat ’n juwelierswinkel in die Somerset Mall Maandag beroof is.

Volgens kol. Andrè Traut, ’n polisiewoordvoerder, het die rooftog omstreeks 10:00 plaasgevind.

Hy sê vyf rowers het die juwelierswinkel bestorm en die werkers met vuurwapens aangehou. Daarna het die vyf met hul buit op die vlug geslaan.

Veiligheidswagte het ’n verdagte (30) van Cross­roads in die sentrum in hegtenis geneem, maar die ander vier het in ’n wit Audi gevlug.

Die polisie het die voertuig op die N2-snelweg agternagesit. ’n Skietery het uitgebreek. Een van die vermeende rowers is doodgeskiet en een is gewond.

Die gewonde makker is tans onder polisiebewaking in die hospitaal.

Die oorblywende twee rowers het te voet weggekom.

Die polisie het die gebied gefynkam op soek na hulle.

In die motor het die polisie afgekom op van die gesteelde juweliersware en ’n vuur­wapen.

Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat ondersoek die skietery waarin die een verdagte dood en een gewond is.

Verskeie mense wat met Son gepraat het, sê chaos het ten tyde van die rooftog geheers, want niemand was so iets te wagte nie.

Gerugte dat die bank ook ’n teiken was, het die ronde gedoen, maar daar steek geen waarheid in nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters