17 dae gelede
Rowers pak geldwa wild
ONDERSOEK: ’n Polisieman loer in by die kombi wat deur die groep rowers as hul getaway-kar gebruik is.  ~ Foto Verskaf

MACASSAR was gister ’n oorlogsone toe swaar gewapende rowers op ’n SBV-geldwa toegeslaan het.

Dit het helder oordag by die Shoprite-winkelsentrum gebeur.

Selfoonvideo’s wys hoe die rowers hul ding doen.

Wat seker nog skokkender uit die video’s is, is hoe mense doodluiters verbystap om hul shopping te doen.

Ander inwoners wat in nabygeleë winkels is, het die gebeure op film vasgelê.

Op die agtergrond van een van die video’s kan ’n mens hoor hoe ’n vrou uit skok aan die snik gaan.

Son verneem ’n klomp rowers in ’n taxi van die toneel gevlug en is luidens berigte in Stellenbosch op die hoek van Dorpstraat en die R44 vasgekeer.

Van die rowers het daarin geslaag om te vlug

Son het ook betroubaar verneem drie van die vermeende rowers is in die Kayamandi-woonbuurt vasgetrek. Die polisie het op voertuie en vuurwapens beslag gelê.

Die cops het nege magasyne van die misdaadtoneel verwyder.

Inwoners wat ten tyde van die voorval in die winkelsentrum was, sê dit is ’n wonderwerk dat niemand daar raakgeskiet is toe die skote so begin klap nie.

“Die rowers het nie omgegee of hulle mense tref nie. Hulle was net honger agter geld aan,” vertel ’n inwoner.

Pluimpie

’n Gemeenskapsleier wat ook uit vrees vir vergelding anoniem wil bly, sê die sentrum sal sy veiligheidsmaatreëls moet opskerp.

“Die polisie verdien ’n pluimpie vir hul flinke optrede,” voeg hy by.

Die bedrag wat die rowers gebuit het, is in hierdie stadium nie bekend nie.

Brig. Vish Naidoo van die polisie se nasionale kommunikasie-kantoor het die voorval bevestig.

“ ’n Polisiebeampte en ’n sekerheidswag is gewond.

“Die verdagtes is by die Kayamandi-taxistaanplek in Stellenbosch vasgetrek.

“Drie verdagtes is gearresteer en vyf vuurwapens, insluitend drie AK-47’s, en vyf voertuie is gekonfiskeer.

“Die verdagtes het twee van die voertuie gekaap nadat hulle van die Macassar-toneel gevlug het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters