5 dae gelede
Rotties draai killer met seun
VERPLETTER: Stacey-Lee Adams is verskriklik hartseer oor wat met haar broertjie Uriel Ockhuis gebeur het.  ~ 

TWEE Rottweiler-honde het ’n seun (6) van Hillview, Kaapstad, op sy pa se verjaardag doodgebyt.

Uriel Ockhuis het wonde aan sy kop en nek opgedoen. Hy is later in die hospitaal dood.

Die aanval het Maandag 18:45 op die hoek van Rosestraat en Gladiolaweg gebeur.

Een hond het Uriel aan die bene beetgekry en die ander het hom aan die kop gegryp.

Gespook

Volgens Stacey-Lee Adams (31), Uriel se hartseer suster, het hulle desperaat gesukkel om haar boetie se kop uit die hond se greep los te kry.

URIEL OCKHUIS (6)FOTO VERSKAF

Maar ondanks hulle gespook het die hond net aangehou.

Adams sê: “Ek het nog nooit gesien ’n hond byt ’n kind só nie. Die hond wou Uriel nie los nie.

“Ons en van die gemeenskapslede het die hond met klippe gegooi, maar die hond wou nie los nie.

“Uriel het so baie bloed verloor. Die bloed het by sy kop en nek uitgespuit.

“Ons het met hom na die daghospitaal gejaag, maar hy het dit nie gemaak nie.

“Hy wou nog praat, maar ek kon nie uitmaak wat hy wou sê nie.

“Ons gaan hom baie mis. Dit voel asof hy nog hier is. Dit het nog nie rêrig by my ingesink wat gebeur het nie.”

Volgens Adams het haar broertjie winkel toe gegaan om bubblegum te koop.

HARTSEER: Jonathan January, eienaar van die twee Rottweilers, wens hy kon die klok terugdraai.

Die honde se eienaar woon oorkant die winkel. Hulle het by die hek uitgekom en Uriel aangeval.

Jonathan January (53), die eienaar van die twee Rottweilers, sê: “Ek was nie by die huis toe die aanval plaasgevind het nie.

“Die honde kom nooit uit my jaart nie. Iemand moes die skuifslot van die hek van binne af oopgetrek het.

“Ek neem aan die kinders moes die honde geterg het en hulle het teen die hek opgespring.

“Die hek maak na buitentoe oop en dis hoe die honde uitgekom het.”

January laat sy kop sak en sê: “Ek voel baie sleg oor wat gebeur het.

Droom

“Die Dierebeskermingsvereniging het die honde kom haal en hulle uitgesit.

“Die honde was gewoonlik nie aggressief nie.

“Ek het hulle al vyf jaar en nog nooit het so iets gebeur nie. Dit voel soos ’n nare droom en ek wag nog om wakker te skrik.

“Ek gaan die seuntjie baie mis, want ek het hom goed geken.”

Volgens kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters