6 maande gelede
Rommel is net 'n getjommel
Groot gemors: Die council het gisteroggend van die vullis kom skoonmaak.Foto verskaf  ~ 

BYNA drie maande lank het vuilgoed by die pienk fletse in Heilbotweg, Bishop­ Lavis, rondgelê.

’n Vieslike stank het in die lug gehang, die vlieë het ’n jol gehad en dit was ’n gesondheidsrisiko vir inwoners.

By Son se besoek gister­oggend is die een hoop vullis eindelik kom haal, maar in ander plekke is dit steeds vuil.

Mike Hoffmeester, sekretaris van die Bishop Lavis Development Forum, sê die Stad Kaapstad kontrakteer mense om die area skoon te hou.

“Solid waste kom haal nie die vullis gereeld nie.

“Die verskoning wat gegee word, is dat hulle nie ’n ‘grabber het om die vullis op te tel nie.

“Daar is ’n begroting daarvoor, maar die afgelope drie maande het niemand skoongemaak nie.

Gebel

maak skoon: Mymoena de Wee praat oor die vuilgoed wat in die strate lê.

“Die vullis lê by die woonstelle langs Robert Sobukwe-weg en op pad na die lug­hawe.

“As hier besoekers kom, sien hulle hoe dit lyk. Ek het self al na die council toe gebel en verwysingsnommers gekry, maar dit word nie skoongemaak nie.”

Mymoena de Wee, ’n inwoner van die woonstelle waar die vuilgoed so lê, sê hulle kan die stank nie hou nie.

“Hier is ’n gebou waar mense hulle vullis gooi, maar dié word ook nie leeggemaak nie.

“Ons het gevra dat elke woonstel sy eie asblik kry, maar ons hoor niks daarvan nie.”

Sies, man! Vuilgoed ontsier groot dele van Kalksteenfontein.Foto’s: Melinda Stuurman

Asa Abrahams, die raadslid in die area, sê sy weet van die probleme en daar ís skoongemaak.

“Ons het al met die buurtwag en die inwoners vergader.

“Ons weet ook van mense wat dromme steel. Van die jongens smash and grab by karre en die gesteelde goed word ook na die hokke geneem waar die vuilgoed is.”

Abrahams sê hoewel die munisipaliteit doen wat hy kan, moet die inwoners self darem ook hulle eie gebied skoonmaak.

“Daar waar ek bly, maak ons die straat self skoon. Mymoena weet ook wie dit is wat so mors. In die gebou waar die dromme is, word slotte opgesit en die slotte word gebreek en die dromme gesteel.”

Mense wat rommel in Kalksteenfontein langs Bishop­ Lavis optel, sê hulle tel die vuilgoed op, maar dan kom mense net in die nag en dump nóg.

Inwoners meen as hulle aangestel word om self hulle buurt skoon te maak, sal dit ook beter gaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters