4 maande gelede
Roekelose ryery grootste kopseer
JONGES: Naathiem Carr, Jean Smith, Meshack Adams en Matthew Barthus van College of Cape Town het die veldtog interessant gevind.Foto’s: MAURICIA Petersen  ~ 

STATISTIEKE wys die meeste padongelukke word deur roekelose bestuurders veroorsaak.

En baie van hulle is jong mense.

Daarom het Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minister van vervoer en openbare werke, ’n bewusmakingsveldtog oor padveiligheid vir jong mense aangebied.

Die geleentheid het Vrydag by die Killarney-renbaan plaasgevind.

Luidens statistieke sterf minstens 1,2 miljoen mense jaarliks wêreldwyd in padongelukke.

Dissipline

Madikizela sê nasionale statistieke skets ’n prentjie van veral jong mans wat oor naweke in ernstige ongelukke betrokke is.

Madikizela het daarop gehamer dat dit belangrik is om dissipline op die land se paaie terug te kry.

“Te veel jong mense sterf op ons paaie. Roekelose gedrag op ons paaie is onaanvaarbaar.

“Roekelose bestuurders sal toegekap en hulle rybewys afgevat word.”

Kenny Africa, Wes-Kaapse verkeershoof, het ook die veldtog bygewoon. Hy sê drag racing is nie wettig op openbare paaie nie, net op plekke soos die Killarney-renbaan.

Verskillende aktiwiteite is gedoen om aan die jeug te illustreer hoe gevaarlik roekelose bestuur is.

Een daarvan was hoe om op ’n veilige afstand briek te trek wanneer jy teen ’n hoë spoed ry.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters