11 dae gelede
Roekelose bestuurder eis vrou
HARTSEER: ’n Kar het Rosie Haas doodgery.  ~ Foto Verskaf

DIE gemeenskap van Broadlands Park in die Strand rou oor die tragiese dood van Rosie Haas (64), wat Sondagaand in Petuniastraat in ’n gru-ongeluk gesterf het.

Volgens die polisie het die ongeluk omstreeks 18:30 plaasgevind toe ’n kar na bewering in die straat gejaag het en haar raak gery het. Sy is op die toneel dood.

Die polisie sê hulle ondersoek klagte van dronkbestuur en manslag. Die verdagte is op die toneel in hegtenis geneem en sal binnekort in die hof verskyn.

Son het verneem dat die verdagte in die straat af gejaag het en mense het hom na bewering gewaarsku om nie so roekeloos te bestuur nie. Hy het nie gehoor gegee nie en glo net sy jaagtog voortgesit.

Drank

Die slagoffer was op pad van die winkel af toe die ongeluk plaasgevind het.

’n Ooggetuie vertel met die kar se gejaag het die verdagte die vrou getref en toe teen ’n aankomende motor vas geslinger. Haas het meters deur die lug getrek en op haar kop te lande gekom, waarna sy op die toneel gesterf het.

Son het ook betroubaar verneem dat daar vyf leë kiste bier in die motor was en dat die polisie ook op drank beslag gelê het.

Frank Haas, die slagoffer se enigste kind, sê sy ma was ’n stil vrou wat niemand gepla het nie. Sy het in liefde en vrede met almal gelewe.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters