7 dae gelede
Robbeneiland toe ‘onskuldig’
WERK SAAM: Dit blyk dat die Robbeneiland-museum nie skuldig is aan wanbestuur nie.  ~ Peter Abrahams

’N ONDERSOEK na beweerde wanbestuur by die Robbeneiland-museum het net een probleem uitgewys.

Altesaam 22 bewerings van wanbestuur is teen die museumbestuur gemaak.

Die Ex-Political Prisoner Association of South Africa (Eppa) kla al jare oor wan­bestuur en bedrog by die museum.

Dinge het só erg gegaan dat Eppa selfs pres. Cyril Ramaphosa gevra het om in te gryp.

In Junie 2020 het die staatsprokureur MacRobert Attorneys aangewys om die bewerings te ondersoek.

Hulle moes die museum se raad daarna verwittig of daar enige prima facie-bewyse is dat stappe teen enige museumbeampte geneem moet word.

In die ondersoek is nóg be­werings onder die museumraad se aandag gebring.

Dit het gegaan oor ouditverslae wat daarop wys dat die museum se afdelings vir menslike hulpbronne en aankope nie hul werk doen nie. Dit het ook gefokus op afwykings wat betref die aanstel van personeellede, sowel as nepotisme. Dan is daar ook die algemene power werk van die museumbestuur, diefstal van intellektuele eiendom, sowel as die swak operasionele bestuur van die bote.

Geopper

Khensani Maluleke, die museumraadsvoorsitter, sê dit was altyd die raad se doelwit om die verslag se bevindings bekend te maak.

“Ons is bly om te kan sê selfs met die nuwe be­werings was daar geen bewyse van wanbestuur nie.

“Ons hoop ons kan met dié bevindings alle negatiewe dinge wat sekere rolspelers en politici geopper het, agter ons plaas.”

Uit ál die be­werings was daar net een geval waarin daar prima facie-bewyse is dat dissiplinêre optrede teen twee museumbeamptes nodig is.

Die staatsprokureur het ook ’n voorsitter aangestel om die dissiplinêre optrede te lei. Dit sal binne die volgende paar weke plaasvind.

Maluleke sê weens die dissiplinêre proses wat voortgaan en uit respek vir die museumwerknemers, moontlike getuies en die integriteit van die dissiplinêre proses, sal geen verdere inligting gegee word nie.

“Ons bly daartoe verbind om oop te wees met die finalisering van die dissiplinêre proses en enige ander wettige verrigtinge wat volg.

“Die uitslag sal bekend gemaak word.”

Die verslag maak ook aanbevelings hoe die Robben­eilandmuseumraad sekere tekortkominge kan regstel.

Van die aanbevelinge is:

  • Om met belanghebbers te praat en hul insette te kry vir raad en leiding;
  • Om die verskillende besigheidsbeleide te oorweeg en maatreëls in te stel om te keer dat mense skeef trap;
  • En om met die minister van sport, kuns en kultuur te praat. Die minister het die mag om sekere stappe te neem.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters