5 dae gelede
Reuse-operasie wag op hart-kid
VEGTER: Ten spyte van al die hindernisse bly Grady en Johlene Erasmus hoopvol.  ~ Jonathan Lestrade

BY SY geboorte het die dokters hom weens sy swak hartjie ’n skrale kans op oorlewing gegee.

Klein Grady Erasmus (5) van Scottsdene in Kraaifontein is egter in hart en siel ’n vegtertjie.

Grady gaan Woensdag vir ’n intensiewe hartoperasie wat na verwagting die hele dag gaan neem.

Hy is gebore met ’n verharde aorta, drie gate in sy hart, slegs die helfte van sy hart­kamers en ook suurstof tussen sy longe en hart wat nie normaal sirkuleer nie.

Volgens sy mammie, Johlene (42), het die dokters haar aangeraai om vir ’n aborsie te gaan toe sy ses maande swanger was.

Johlene sê: “Ek het ge­weier en glo in ’n God van wonderwerke.

“Ons het vir ’n tweede opinie na die Rooi Kruis-kinderhospitaal gegaan.

“Die dokter het ons verwys na die Chris Barnard-hospitaal, waar ons vir die eerste keer hoop gekry het.

“Die vorige dokters het gesê my kind gaan net vier maande leef.

“Ná sy geboorte het die dokters hom huis toe gestuur met pype om hom te help asemhaal.

“Ek kon nie slaap nie. Ek het elke keer gekyk of my kind nog asemhaal.

“Hy het baie opgegooi en dit was moeilik, maar die Here het hom deurgedra.”

Wonderwerk: Die dokters het aanvanklik aan Johlene Erasmus gesê haar seuntjie sou net vier maande leef.

Volgens Johlene gaan die operasie die hele dag duur en Grady sal omtrent drie weke in die hoësorgeenheid wees en daarna in ’n gewone saal aansterk.

Die dokters gaan vir die eerste keer aan sy hartjie werk, want sy are was voorheen te nou.

Die operasie Woensdag sal sy derde een wees.

Volgens die mammie het die dokters eers op ses maande en weer toe hy amper drie jaar oud was, buisies in sy bors ingeplant om hom te help asemhaal en om sy lewe te verleng.

Sy sê: “Grady raak baie gou moeg en kortasem.

“Hy raak blou in sy gesiggie weens ’n tekort aan suurstof en gooi dan op.

“Ons hoop en bid dit sal verander ná die operasie.”

Grady hou daarvan om met sy maatjies te speel en in te kleur. Hy geniet kerkkoortjies ook baie.

Voorbidding

Hy loop tans crèche, maar is die afgelope twee weke by die huis omdat sy ma bang is hy tel kieme op voor sy operasie.

Volgens past. Eon Adams, ’n familielid, het hulle Sondag ’n opelugkerkdiens met voorbidding vir Grady gehou.

VEGTER: Ten spyte van al die hindernisse bly Grady en Johlene Erasmus hoopvol.

Adams sê: “As familie ondersteun ons sy mammie.

“Die kerkdiens is om ander mammies met kinders wat soortgelyke siektes het, te ondersteun en hoop te gee.

“Dit was ’n kragtige diens. Ons wil ouers wat kinders het met ’n soortgelyke hartkwaal aanmoedig om te bly glo.

“Die dokters het Grady se ouers by sy geboorte gewaarsku hy gaan nie lank lewe nie. Deur die genade van God en gebede lewe hy nog en hy word volgende jaar al ses jaar oud.

“By die opelugdiens Sondag was daar ook ’n mammie met ’n seuntjie wat dieselfde hartkwaal as Grady het.

“Die dokters het ook nie vir hom hoop gehad nie, maar hy lewe vandag nog.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters