29 dae gelede
Regter spreek 6 ‘josters’ vry
SKULDIG: Horatio Solomon (links) en Ismail Ockerts.  ~ Foto Verskaf

DIE Terrible Josters-hofsaak is een wat mense lank gaan bybly.

Al die beskuldigdes – behalwe beskuldigde nr. 3, wat nie genoem mag word nie aangesien hy die broer is van een van die staatsgetuies – het in hul eie verdediging getuig.

Drie van die beskuldigdes, Ishmaeel Ockerts, Lezay Booysen en Fabian Constable, het ook getuies geroep om hul alibi’s te ondersteun.

Hulle almal het enige betrokkenheid ontken by die misdade waarvan hulle aangekla is.

Hulle het ook ontken dat hulle lede van die Terrible Josters is.

Hoewel sommige van hulle ’n gunstiger indruk as ander gemaak het, het regter Owen Rogers gesê dat daar nie iets wesenliks nadelig in hul gedrag was nie.

Rogers het verwys na die 12 vermeende lede van die Terrible Josters-bende wat tereggestaan het op 71 klagte, insluitend moord, poging tot moord en dwelmhandel.

Rogers het sedert Augustus 2019 die saak aangehoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Hy het hierdie week ses van die vermeende bendelede skuldig bevind op verskeie klagte en ses vrygespreek.

Leier

Rogers het Maandag in sy uitspraak gesê beskuldigde nr. 1, Horatio Solomon, tydens sy hoof- en kruisondervraging arrogant en argumentative geword het. Volgens een van die staatsgetuies is Solomon die leier van die bende in Delft.

Solomon is vrygespreek op klag een, wat verband hou met die Poca-wet op georganiseerde misdaad. Hy is egter skuldig bevind op klag twee, wat ook verband hou met die Poca-wet. Dit was weens sy betrokkenheid by klagte 35, 36 en 71 wat verband hou met die moord en poging tot moord op Vernon Bothes. Bothes is op 29 Junie 2015 in Belhar afgemaai.

Klag 71 hou verband met dwelmsmokkelary.

Solomon se regterhand, Ismail Ockerts, is ook skuldig bevind op klagte 35, 36 en 71.

Rogers het in sy uitspraak gesê dat daar niks in Issie, soos Ismail bekend staan, se gedrag was tydens sy ondervraging wat gekritiseer kon word nie.

Rogers het Ishmaeel Ockerts, bekend as Eel (beskuldigde nr. 4) se gedrag as volg beskryf: “Hy het my gestrike as iemand wat ’n gebrek aan intelligensie het, maar daar was niks negatiefs in sy houding nie.”

Ockerts is vrygespreek op alle klagte. Intussen is die vermeende leier van die bende in Belhar, Elton Ely, (beskuldigde nr. 5) ook vrygespreek op alle klagte.

Rogers het sy houding in die getuiebank as spraaksaam, maar soms non-responsive en ontwykend beskryf.

Die regter het beskuldigde nr. 6, Brent Campbell, wat ook vrygespreek is, se getuienis as gunstig beskryf en gesê hy kom redelik intelligent voor.

“Hy het groter openhartigheid getoon as die beskuldigde wat voor hom getuig het.”

Die ander wat getuig het, sluit in Bradley Roberts (beskuldigde sewe) wat volgens die regter onindrukwekkend was. Beskuldigde agt, Lezay “Kleintjie” Booysen is deur Rogers as “pateties” beskryf.

“Hy het duidelik ’n dys­functional childhood gehad,” het die regter gesê.

Fabian “Fabba” Constable (beskuldigde nr. 9) was ’n bietjie arrogant, het die regter gesê. Beskuldigde nr. 10, Ziyaad Saafodien, het volgens regter Rogers kort antwoorde gegee en die vrae beantwoord voordat dit klaar gevra is.

Cocky

Die regter het gesê beskuldigde nr. 11, Keenan Kruger, het ’n aangename houding gehad, maar hy het die indruk gelaat dat hy cocky is.

Beskuldigde nr. 12, Lucian “Lurkie” Consul, het ’n ongunstige indruk gemaak.

Beskuldigdes 1, 2, 9 10, 11 en 12 is op verskeie klagte skuldig bevind en die ander is vrygespreek.

Die ses wat skuldig bevind is, sal op Woensdag 7 Oktober gevonnis word.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters