Verlede maand
Regstelsel faal – familie
liederlik: Die 61-jarige ma se moord het destyds skokgolwe deur die hele Mitchells Plain gestuur.  ~ Melinda Stuurman

HULLE is gruwelik “gefaal deur die regstelsel” wat justice moet serve.

Pleks van geregtigheid kry, sit die familie en naasbestaandes van Gafsa Roberts (61) met meer vrae as antwoorde nadat Roberts se seun, Shakoor, Vrydag as ’n vry man uit die Mitchells Plain-hof gestap het.

Die moord op Gafsa het destyds skokgolwe deur die hele Plain en Wes-Kaap gestuur.

Gafsa is in 2015 vermoor en haar lyk is in ’n wheelie bin voor haar huis in Winterhoekstraat in Tafelsig, Mitchells Plain, gedump.

Luidens die nadoodse ondersoek het Gafsa ernstige kop-trauma gehad; is sy versmoor en haar longe, keel en bors is erg beskadig. Haar lyk is ook ná haar dood gewas.

Dit was een van die opspraakwekkendste en langste sake wat die Plain ooit gesien het en nou is dit verby.

Volgens landdros Mary Jacwu het die staat nie genoeg bewyse gehad om hul saak bo redelike twyfel te bewys nie en Roberts is om dié rede vrygespreek.

Son het tevore berig oor die interdik wat Gafsa ’n jaar voor haar moord teen haar seun gekry het.

In die interdik het Gafsa verduidelik haar seun het haar fisiek aangerand en emosioneel afgekraak.

Gafsa wou toe deur die interdik hê die hof moet haar seun vra om op te hou om haar te abuse, dat hy ’n werk moet kry en sy drug-gebruik moet stop.

Maar nie eens die interdik was sterk genoeg om Roberts agter tralies te kry nie.

Jacwu het na foute met betrekking tot ’n behoorlike mediese verslag, recording-transkripsies en betroubare getuies verwys.

“Die staat het die saak gefaal,” verduidelik Jacwu.

“Die datum op die interdik is verkeerd aangeteken.

“Die recording van die vermeende bekentenis moes aan forensies gestuur word en selfs die nadoodse ondersoek is nie met potlood geteken en geskryf nie.

“Daar moes ook ’n vir ’n tweede opinie van die nadoodse­ verslag gevra word.”

Son het verlede maand berig oor die huis wat kort ná Gafsa se moord verkoop is. Shakoor se verdediging het hier uitgewys dat die huis die motief vir die 61-jarige se moord was.

Gesleep

Dit was ook tydens dié verskyning waar Jacwu sommige van die onreëlmatig­hede uitgewys het.

Jamia Daniels, Gafsa se niggie, vertel aan Son dat hul familie nie net geskok nie, maar ook hartseer oor die uitspraak is.

“Mense het al in die verloop van die saak gesterf – dis hoe lank die saak gesleep het.

“Dan is die werk nie eens reg gedoen nie.

“Nou sit ons met soveel onbeantwoorde vrae, terwyl hy bly is om uit te wees.

“Dis baie frustrerend dat sy soos rommel in ’n wheelie bin gegooi is en toe ook deur die stelsel wat haar moes beskerm, gefaal is.”

Daniels sê sy het nog baie hoop in die stelsel gehad toe sy by die hof ingestap het, maar dit het alles verander toe hulle binne sit en luister.

“Ek het nog hoop gehad omdat daar baie evidence was en ook hoe hy elke keer sonder remorse verskyn het, maar nee ...

“Die punt is dat daar bewyse was, maar dis nie behoorlik opgevolg nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters