5 dae gelede
Regspanne mor oor saak sloer
Charl Kinnear  ~ Foto Verskaf

HEELWAT tyd is weer in die Bellville-landdroshof gemors om te praat oor tyd wat gemors word.

Advokate in die aansoek om borgtog waarin Nafiz Modack (40) en sy medebeskuldigdes verskyn, het weer gekla hulle kry nie genoeg info van die staatsaanklaers nie en dit mors tyd. Daar is reeds in Mei met die bail-aansoek begin.

Modack, ’n vermeende dikding in die Kaapse onder­wêreld, en Zane Kilian (40) word verdink van die moord op die top cop lt.kol. Charl Kinnear. Hy is op 18 September 2020 voor sy huis in Bishop Lavis doodgeskiet.

Inligting

Modack, Kilian, Jacques Cronjé (50), Ricardo Morgan (36) en Ashley Tabisher (38) het almal Vrydag in die Blue Downs-streekhof verskyn op aanklagte wat sameswering, poging tot moord, korrupsie, oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies en geldwassery insluit. Morgan het vroeër borgtog gekry.

Adv. Danie Dörfling, ’n lid van Modack se regspan, het gesê hulle vra al lank dat die staatsaanklaers meer inligting aan hulle verskaf.

Dörfling sê in een beëdigde verklaring van ’n polisieman wat aan hulle gestuur is, is daar 2 899 files.

“As daar verwys word na iets, weet ons nie in watter file die inligting is nie.”

Adv. Greg Wolmarans, se­nior aanklaer, sê hy stem saam dit vat lank, maar die verdediging mors net so tyd met al die aansoeke wat hulle indien.

Die saak gaan oormôre voort.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters