7 maande gelede
Regsman grill ma oor detail
BLOTE KIND: Karabo Tau gister in die Bellville Landdroshof.  ~ Peter Abrahams

DIE ma van die ontvoerde baba staan by haar storie dat die leerder Kara­bo Tau haar kind gesteel het.

Tau se prokureur, Sulaiman Chotia, het egter weereens in die hof genoem dat hulle bewyse het dat sy nie saam met Asanda Tiwane was toe haar twee maande oue tweelingseuntjie Kwa­hlelwa ontvoer is nie.

Chotia het aangevoer Tau sal self voor die hof kom getuig dat sy Tiwane van geen kant af ken nie.

Terwyl die drama binne die hof aangegaan het, het twee groepe mekaar buite die Bellville Landdroshof behoorlik ingesê.

Die een groep support Tau en die ander een is teen die skoolkind.

Chotia het in die hof gesê: “My kliënt ontken dat sy jou (Tiwane) ooit ontmoet het.

“Sy ontken dat sy ooit by jou huis was.

“Sy ontken dat sy jou op 10 Januarie besoek het.”

Hy het voortgegaan: “Daar is getuies wat saam met haar was wat dit kan bevestig.

“Sy ontken ook dat sy die dag van 16 Januarie, die dag dat die kind weggeraak het, by jou huis was. Daar is getuies wat sal kom getuig dat sy daardie dag by die skool was.”

Chotia het ook verwys na hoe lank dit Tau sou geneem het om met die taxi van haar skool in Claremont na haar huis in Guguletu en daarna na Tiwane se huis in Khayelitsha te ry.

Hy het uitgewys dit is nie versoenbaar met die tyd wat Tiwane gesê het haar kind weggeraak het nie.

Chotia het Tiwane ook gevra hoe sy die dag dat haar kind weggeraak het met 17 Januarie kon verwar.

Tiwane het dikgehou dat sy ’n fout gemaak het met die datum, maar dat sy die besonderhede onthou.

Chotia was egter nie beïndruk nie.

Sy reaksie was: “Niemand sou ooit so ’n fout gemaak het nie.

“Daai datum sou in jou geheue geprint gewees het.

“Daar is geen manier dat jy daardie datum kon vergeet het nie.”

Tiwane het hierna keer op keer gesê sy gee nie om wat Chotia probeer sê nie.

Al wat sy weet, is dat Tau die een is wat haar seuntjie ontvoer het.

Chotia het Tiwane gevra hoe sy Tau aan die polisie beskryf het.

Volgens haar het sy na die polisiestasie in Harare gegaan nadat Tau nie met haar baba teruggekeer het nie.

Tiwane het gesê sy het Tau se selfoonnommer aan die polisie gegee.

Die ma het beweer hulle het ’n foto aan haar gewys nadat sy Tau se nommer vir hulle gegee het.

Volgens Tiwane was sy nog nooit saam met die ondersoekbeampte, sers. Solomzi Ngudi, by Tau se huis nie, al het hy vroeër so getuig.

Tiwane het getuig sy was nog nooit by Tau se huis nie, maar Tau was wel vier keer by haar huis.

Aangehou

Die laaste keer was die dag dat sy haar kind in Parow by die poskantoor saam met Tau gesien het, het Tiwane getuig.

Die saak is uitgestel tot Dinsdag 4 Februarie, wanneer die borgtog-aansoek sal voortgaan.

Tau sal tot dan in Polls­moor aangehou word.

Haar medebeskuldigde, die 22-jarige Elly Kubunda, verskyn Maandag vir borgtog-inligting.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters