2 maande gelede
Rastas march oor sel-dood
VRAE: Die Rasta-gemeenskap sweer hoog en laag die cops is vir Ras Jan se dood verantwoordelik.  ~ Foto Verskaf

WELLINGTON. – “Die boere se moere!”

Met dié woorde het talle Rastas hulle frustrasie teenoor die cops gister buite die Wellingtonse cop shop uitgedruk.

Hulle optog volg nadat Jan “Ras Jan” de Bruin, ’n bekende Rasta in dié Bolandse dorp, laas maand in die aan­hou­ding­selle van die cop shop gesterf het.

Gegil

De Bruin (58) is dood nadat die polisie hom by sy huis in Colibri­straat opgetel en hom na bewering ernstig aangerand het.

’n Memorandum met klagte is aan die polisie oorhandig.

Die optog is gereël deur die Voice of the Western Province (VOWP), Adwa Movement, Drakenstein Concerned Citizens en Rastafari United Front (RUF).

Die betogers het buite die polisiestasie gegil en skree: “Die boere se moere!”

Hulle doen ’n beroep op die polisiediens vir die “onmiddellike skorsing van die polisiebeamptes betrokke by De Bruin se moord”.

Gareth Prince, ’n Rasta-aktivis, sê Rastas is vredeliewende mense.

“Ons is mense van hoër dissipline. Ons is nie mense wat guns uitpluk en geweld gebruik teenoor ons mense nie.”

WYS GESIG: Die bevelvoerder van die Wellingtonse cop shop, lt.kol. FP Rossouw, ontvang gister die memorandum van die ontstoke be­togers.

Volgens hom teister die polisie Rastas net omdat hulle dagga gebruik as deel van hulle geloof.

“Ek hoef nie vir dagga dood te gaan nie,” sê Prince.

“Ek is baie teleurgesteld dat die polisieminister nie met ons wil engage in verband met dié aangeleentheid nie.”

Nog ’n Rasta-aktivis, JJ Zebulon, sê De Bruin het gely onder die polisie se hande.

Zebulon sê: “Hy (De Bruin) is gemartel. Dis pyn wat hy ervaar het. Hy is wreed te na gekom.”

Basil Jacobs, ’n gemeenskapsleier, sê die march gaan oor meer as net die wreedheid teenoor Rastas.

Volgens Jacobs is hulle as gemeenskap teen alle vorme van wreedheid teenoor alle inwoners.

BRANDPUNT: Rastas trek soos een man op na ’n polisiestasie waar een van hulle in aanhouding gesterf het.

Jacobs sê: “Polisie-brutaliteit moet end kry. Hulle (die polisie) het hom (De Bruin) in die polisieselle doodgeslaan.

“Nou wil hulle dié ding toesmeer, maar ons gaan dit nie toelaat nie.

“Ons wil dit ontbloot.

“Ons kan nie in dié day en age dat dié tipe polisiebrutaliteit voortgaan nie. Die community moet opstaan.

Ontvang

“Ons as gemeenskap sê: Genoeg is genoeg! Ons is gatvol! Ons gaan nie dat mense hulle mag gebruik om ons te verdruk en om ons te vermoor nie.”

Die bevelvoerder van die Wellington-polisiestasie, lt.kol. FP Rossouw, het die memorandum ontvang.

Jacobs sê verder hulle as die deelnemers aan gister se march gaan De Bruin se voorval na die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Yolisa Matakata, verwys.

Sontaga Seisa, woordvoerder van die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), het bevestig hulle ondersoek De Bruin se dood.

Volgens Seisa is geen arrestasies al gemaak nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters