14 dae gelede
KYK: Protea se broer in pad dood
tyrone philander
AFGESPER: Die lyk van Tyrone Philander lê in die pad. FOTO: Leon Knipe  ~ 

’N BENDESKIETERY het nou ook die broer van die Protea-krieketspeler Vernon Philander geëis.

Tyrone Philander (32) is gister op die hoek van Webnerstraat en 7de Laan in Ravensmead met ongeveer sewe skote afgemaai.

Die motief vir die skietvoorval is onbekend.

Die inwoners is bekommerd omdat daar die laaste paar dae reeds sewe mense in bendeskietery vermoor of gewond is.

Tyrone het vir sy aanstaande skoonma, Catherine Pieterse (55), water gaan haal.

Hy het ’n sleutel vir die water by mense in Webnerstraat gaan haal en die water­ met sy waentjie in 4de Laan gaan tap.

Toe hy terugkom, is hy in Webnerstraat doodgeskiet.

Dis net ’n paar huise af van waar hy en sy girlfriend gebly het.

Mense op die toneel het Tyrone se hartseer ma, Bonita, vertroos. Twee broers was ook daar, maar Vernon was nie teenwoordig nie.

Hul ma was hopeloos te ontsteld om met die media te praat.

Sommige inwoners sê dit was ’n jong man te voet. Ander sê Tyrone is vanuit ’n kar geskiet.

Inwoners het 13:13 sewe skote gehoor en uitgehardloop. Toe sien hulle Tyrone bebloed in die pad lê.

Wasgoed

Altesame 11 koeëldoppies is op die toneel gevind.

Zelda Trantraal, woordvoerder van Ravensmead se gemeenskapspolisiërings­forum, sê hulle gaan ’n krisisvergadering met die polisie hou.

Sy sê wat hulle bekommerd maak, is dat baie van die mense wat geskiet is, glad nie by bendes betrokke is nie.

Pieterse sê Tyrone het vir haar gaan water haal omdat sy wasgoed wou was.

“Toe hy op pad terug was, het ons net die skietery gehoor.”

Ondersoek

Sy sê ook haar aanstaande skoonseun was glad nie by bendes betrokke nie en hy was ook nie voorheen daarby betrokke nie.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het die voorval bevestig.

Van Wyk voeg by: “Die omstandighede rondom die skietvoorval word ondersoek.”

Enige een met inligting kan die ondersoekbeampte, speursers. Nyameko Mnqayi, bel by 079 894 1278 of 021 933 9000, of Crime­ Stop by 08600 10111.

PROBEER TROOS: Bonita Philander, Tyrone se ma, word deur mense bygestaan. Foto: Peter Abrahams

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters