7 maande gelede
Pres. mic-man
30 JAAR LATER: Pres. Cyril Ramaphosa dra nou die mantel van die man wie se beeld langs hom is.  ~ Jonathan Lestrade

Ramaphosa het Dinsdag op die balkon van die Kaapstadse stadsaal gestaan waar hy op 11 Februarie 1990 saam met Tata Madiba gestaan het.

Dit was toe die 72-jarige Mandela as ’n vry man sy eerste en geskiedkundige speech aan die land gemaak het.

Vir sommige was dit die eerste keer dat hulle ooit Mandela se stem gehoor het.

Vir die meeste was dit die eerste keer dat hulle Madiba ooit gesien het.

Vir Ramaphosa, soos vir baie ander, was dit die dag waarop die land bevry is van die juk van apartheid.

In sy toespraak op die Nelson Mandela Foundation se 30ste herdenking van “Nelson Mandela’s Return” het Rama­phosa gesê: “Dit was ’n historiese dag wat vir ewig in my hart sal bly.”

Ramaphosa het aan die leerders verduidelik dat hulle op dieselfde plek is waar derduisende leerders 30 jaar gelede gestaan het.

Hy het gesê: “Dit was ’n emosionele oomblik vir almal. Dit was die dag toe Mandela uit isolasie tot binne mense se harte geloop het.

“Dis die dag toe daar magic in die lug was, want in die oomblik kon ons die droomland deur Mandela sien, voel en hoor. Ons vryheid het uiteindelik gekom!”

Opgeoffer

Deoline Mndwane (19) van die Hoërskool Silverstream was een van die enigste leerders wat die oomblik verstaan het, al is sy nie eens in 1990 gebore nie.

ENE ORE: Die skare luister aandagtig terwyl pres. Cyril Ramaphosa praat oor oud-pres. Nelson Mandela se vrylating en nalatenskap.

Deoline het gesê: “Ek is hier om oor Mandela te hoor.

“Ek het gehoor van alles wat hy opgeoffer het vir ons land.

“Ek weet ook dat hy 30 jaar gelede op dié plek sy eerste speech aan die land gegee het.”

Maar Sunè Makepan (15) het gesê sy is net daar om die president te sien, want sy “weet nie wat Mandela gedoen het nie”.

Ramaphosa het gesê: “Dis vir óns om daai legacy te hou en te bou.

“Om altyd saam te staan, want Mandela se visie is iets wat die land steeds nodig het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters