2 maande gelede
Pot noem die ketel bruin
Nie beïndruk: Die Wes-Kaapse ANC-sekretaris, Faiez Jacobs, meen die DA het rassepolitiek gebruik om die verkiesing in dié provinsie te wen.Foto: Peter Abrahams  ~ 

DIE DA se “rassistiese” strategie in sy verkiesingsveldtog het die bruin meerderheid in die Wes-Kaap oorreed om weer vir hom te stem.

Só het Faiez Jacobs, provinsiale ANC-sekretaris, gister oor die verkiesingsuitslae gal gebraak.

Die DA het 55,45% van die stemme gelok (24 setels in die Wes-Kaapse wetgewer), die ANC 28,63% (12) en die EFF 4,04% (2).

Banggemaak

Good (3,01%), die ACDP (2,66%), VF Plus (1,56%) en Al-Jama-ah (0,86) het elk een setel.

Jacobs meen: “Bruin mense is rassisties. As dit oor die fundamentals van die DA gegaan het, sou hulle nie vir die DA gestem het nie.

“Die enigste rede waarom die meerderheid bruin mense in die Wes-Kaap vir die DA gestem het, is dat die DA hulle banggemaak het.

“Hulle is banggepraat dat die swartes sou oorvat as hulle ANC sou stem. Die DA se veldtog van ‘Hou die ANC en EFF uit die Wes-Kaap’ is eintlik ’n kodewoord vir ‘hou die swartes uit’, na my mening.

“Daar is geen ander rede hoekom bruines vir die elitistiese DA gestem het nie, veral ná alles wat die DA aan Antie Pat (Patricia de Lille) gedoen het.

“Antie Pat is iemand wat tot nou toe vir die belange van almal gewerk het, insluitend die bruines.

“As jy nie vir die ANC kan stem nie, hoekom kan jy nie vir ’n verandering vir die Good-party stem nie?”

Hy hou vol die ANC gaan ’n effektiewe opposisie wees.

Volgens Jacobs vergader die ANC die komende naweek om te besluit wie van hulle die party in die provinsiale parlement gaan verteenwoordig.

Die provinsiale DA-leier, Bonginkosi Madikizela, het gister met ’n WhatsApp-boodskap op Son se navraag gereageer.

Hy kap terug en sê Jacobs en die ANC in die algemeen weet nie hoe om te aanvaar dat hulle verloor het nie.

Madikizela merk op: “Dis ’n baie dom aantyging om te maak dat die DA rassistiese taktiek gebruik het om die verkiesings te wen. Hy (Jacobs) is ’n slegte verloorder.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters