5 maande gelede
Polispenarie
trek swaar: Abraham Daniels sê hy moes hom tot ’n loan shark wend om sy vrou begrawe te kry. Foto: peter abrahams  ~ 

’N ONGELETTERDE man van Belhar moes skarrel om sy oorlede vrou te begrawe nadat sy begrafnispolis by Metropolitan verval het.

Abraham Daniels (62) sê hoewel hy alles in sy vermoë gedoen het om te verhoed dat dít gebeur, het Metropolitan hom nie tegemoet gekom nie.

Daniels, ’n pensioenaris, het aan Son gesê die moeilikheid het gekom omdat daar nie geld in sy rekening was toe sy debietorder afgegaan het nie.

Volgens Daniels het hy Metropolitan ingelig Sassa se betaaldatums is nie elke maand dieselfde nie.

Hy vertel: “Ek het vir hulle gesê as my geld nie die 3de in is nie, sal dit die 4de of 5de van elke maand in wees.

“Toe ek my paaiement mis, het ek na hul kantore in Parow gegaan sodat ek dit kon betaal.

“Ek het die geld saamgeneem om sommer daar te betaal, maar hulle wou dit nie só aanvaar nie.

“Hulle het aan my gesê hulle sal dit die volgende maand sommer saam met die nuwe maand se paaiement aftrek, maar hulle het nooit.”

Daniels sê nie lank hierna nie het hy ’n brief ontvang waarin Metropolitan hom inlig sy polis het verval.

Maar hy sê oor hy nie kan lees of skryf nie, het hy weer na hul kantore gegaan en hulle gevra hoekom hulle nog nie dinge reggestel het nie.

Daniels sê elke keer is net aan hom gesê hy moet wag; hy sal ’n oproep ontvang.

Daardie dag het egter nooit aangebreek nie.

Toe sy vrou in dié tydperk sterf, moes hy by ’n loan ­shark geld leen om haar onder die grond te kry.

Volgens Daniels betaal hy die loan shark tot vandag toe nog elke maand R250.

Hy sê ook hy loop tot vandag toe steeds sy skoene deur sodat Metropolitan hom met sy polis kan help, maar elke keer slaan die deur in sy gesig toe.

Daniels sê: “Ek kan net wanneer ek Sassa pay na hul kantore in Parow gaan.

Struggle

“Elke keer neem ek die geld saam, maar hulle help my nie.”

Toe Son Metropolitan van Daniels se struggle in kennis stel, het Mariza Schlusche, hoof van kliëntedienste, gesê hulle is jammer om te verneem van Daniels se nare ondervinding met hulle.

Volgens Schlusche is dit die tweede keer dat Daniels se polis verval omdat daar nie genoeg geld in sy rekening is nie. Die eerste keer was in 2019, maar sy polis is daarna hervat, het sy gesê.

Volgens Schlusche het Daniels inderdaad hul takke besoek en aangebied om kontant te betaal, maar hul takke word nie toegelaat om kontant te aanvaar nie.

Kliënte kan wel by Shop­rite of ’n bank geld inbetaal, maar Daniels het nie van hierdie metode gebruik gemaak nie.

Schlusche voeg by: “Ons moes groter verantwoordelikheid geneem het toe mnr. Daniels die dienstak besoek het om hom te laat verstaan watter opsies vir hom beskikbaar is.

“Ons stel voor dat ons mnr. Daniels se polis hervat vanaf die datum wat dit verval het sodat hy die begrafnisdekking kan ontvang en sy begrafnispolis kan voortgaan.”

Schlusche sê hulle onderneem om 50% van die uitstaande paaiemente vir albei lewens te betaal oor hul dienslewering gefaal het.

Huisadres

Sy voeg by hulle het probeer om Daniels van hierdie verwikkelinge in kennis te stel, maar sukkel om hom in die hande te kry.

Schlusche het Son verseker as hulle aanhou sukkel om hom telefonies te bereik, sal ’n finansiële adviseur hom vandag by sy huisadres gaan besoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters