Verlede maand
Cop-skoot eis partner

DIE partnership van twee lede van die teen-bende-eenheid is Saterdag in ’n bisarre skietongeluk beëindig toe die een die ander een in die kop geskiet het.

Die skietongeluk, wat sers. David Hoffman (40) se lewe geëis het, het Saterdagaand in Skoolstraat in Franschhoek gebeur.

Volgens brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, was albei lede van diens af gedurende die voorval.

“Daar word beweer dat ’n groep mans by die huis in Skoolstraat opgedaag het en dat hulle daar was om te stry en baklei.”

Die bakleiery volg na bewering op ’n stryery tussen Hoffman en die jongens.

Die jongens was op soek na ’n man wat skuiling by die huis gesoek het.

Potelwa sê die groep het reeds die huis verlaat toe die polisie en Hoffman se partner daar opgedaag het.

Son verneem van ’n betroubare informant Hoffman moes twee waarskuwingskote afvuur om die jongens wat op hulle toegesak het, te verjaag.

Dit was voordat die polisie en sy partner, sers. Marlon Appollis (41), opgedaag het.

“Hulle het eers die polisie gebel toe die jongens wou k*k maak, maar die polisie het nie uitgekom nie. Dis toe dat hy sy partner bel.”

Toe Appollis opgedaag het, was daar al kalmte en die jongens was weg.

Appollis wou sy vuurwapen se veiligheidsknip weer opsit toe die skoot afgegaan en Hoffman in die kop getref het. Hy is op die toneel dood.

Albei beamptes was speurders by die Stellenbosch-polisiestasie voordat die teen-bende-eenheid hulle opgeraap het.

Appollis is welbekend vir sy speurwerk in die De Zalze-bylmoorde, die Hannah Cornelius-moord en die moord op Jason Rohde se vrou, Susan.

’n Kollega van die twee sê Appollis is “stukkend”.

Aangehou

“Hulle twee was baie tight. Twee families word geraak. Dit is baie sad.”

Appollis, wat Maandagoggend op 'n klag van strafbare mansslag in die Franschhoek-landdroshof verskyn het, is intussen op R1 000 borgtog vrygelaat.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters