Verlede maand
Polisielid ly aan erge breinskade
GEWOND: Konst. Freddie Florence, ’n lid van die teenbende-eenheid, is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal.FOTO VERSKAF  ~ 

KONSTABEL Freddie Florence van die teenbende-eenheid is nog in ’n kritieke toestand in ’n Kaapse hospitaal.

Hy en nog vier cops is Woensdagoggend geskiet toe hulle op die spoor van ’n moordverdagte in Samora Machel, Philippi, was.

Hulle is in ’n lokval gelei en is elk verskeie kere gewond.

Die cops het Woensdagmiddag in die Paarl ’n 26-jarige verdagte vir die skietery gearresteer.

’n Vuurwapen wat met die skietery verbind word, is gekonfiskeer.

Hulle het die verdagte met ’n koeëlwond in die been in die Paarl-hospitaal opgespoor.

Florence, van Ravens­mead, is die pa van ’n sesjarige seun. Sy toestand is kritiek nadat hy ’n noodoperasie ondergaan het.

Die koeël wat in sy kop vasgesit het, is verwyder en hy het erge breinskade opgedoen.

Hy haal nog nie op sy eie asem nie en is steeds aan ’n asemhalings-masjien gekoppel.

Florence en ’n kollega is in die Melomed-hospitaal in Gatesville, terwyl die ander­ drie cops in die Melomed-hospitaal in Mitchells Plain opgeneem is.

Die minister van polisie, Bheki Cele, het Woensdag die gewonde cops in die hospitaal besoek. Hy’t be­lowe geen steen sal onaangeroer gelaat word in die soektog na die verdagte nie.

Nog 200 polisielede is vir die volgende 72 uur in die gebied ontplooi om na die verdagte te soek.

Die aanval op lede van die teenbende-eenheid het gekom ure nadat Cele Dinsdag die gemeenskap oor die onlangse moorde en misdaad in die gebied besoek en toegespreek het.

Die inwoners het gevra die minister moet meer cops daar ontplooi.

Die eenheid is nog op soek na ’n tweede verdagte in die skietery.

Die eenheid is ag maande gelede in Hanover Park bekend gestel om bende­geweld op die Kaapse Vlakte hok te slaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters