5 dae gelede
Polisielede se gedrag skok
ONTEVREDE: Carol Jacobs is woedend vir die way hoe cops haar seun behandel het.  ~ Peter Abrahams

’N MA en haar minderjarige seun is erg getraumatiseer nadat hy ’n nag in die selle moes deurbring – en dit oor ’n mes.

Carol Jacobs, ’n enkelma van Scottsdene, het aan Son gesê sy het nog nooit met die gereg gebots nie en hierdie is ’n nare ervaring wat sy gou wil vergeet.

Volgens Jacobs het haar nagmerrie met die Kraaifontein-polisie begin toe sy Maandag haar seun (14) bank toe gestuur het om sy Sassa-geldjies te gaan trek.

Sy sê hy was baie lus vir ’n roomys en wou nie op haar wag nie.

Hy het toe nooit by die roomyswinkel uitgekom nie, want hy is op pad daarheen gearresteer.

Volgens die seun het hy ’n mes in ’n veld opgetel en die polisie het hom kort daarna deursoek en polisiestasie toe geneem.

Jacobs sê toe haar seun te lank maak, het sy na hom gaan soek.

Sy vertel: “Ek het ’n klong by die winkel gekry en hy’t vir my gesê Connor is gearresteer.

“Ek het my ID en bewys van adres by die huis kom haal om saam met my polisiestasie toe te neem.

Vingerafdrukke

“Terwyl ek op pad was, het die polisie by my huis opgedaag. My oudste seun het my geroep en ek is saam met hulle polisiestasie toe.”

Jacobs sê wat vir haar die ergste is, is dat haar seun soos ’n geharde misdadiger behandel is.

Hy moes vingerafdrukke neem en foto’s neem met ’n wit bord voor sy bors.

Volgens Jacobs het die polisie daarna vir haar ’n vrylatingsvorm laat teken, maar haar seun nie vrygelaat nie.

Sy vertel verder: “Ek het vir hom gewag en skielik het hulle vir hom gesê om komberse te gaan kry.

“Ek was confused, want hoekom moet hy komberse gaan haal as hy moet huis toe gaan?

“Ek het histeries geraak en begin huil.

“Ek het vir die polisieman gevra wanneer hulle nou my kind gaan vrylaat en toe moes ek hoor dat hulle vir die social worker wag.

“Nooit het hulle van ’n social worker gepraat nie.

“Teen 15:30 is ek huis toe en hulle het gesê hulle gaan my bel wanneer ek hom moet kom haal. Nooit het hulle egter gebel nie.

“Ons kon nie slaap of eet nie.

“Ek was baie bekommerd oor my seun, want kanker is in 2018 by hom gediagnoseer en dit is tans in remis­sion.”

Volgens Jacobs is sy die volgende oggend vroeg Blue Downs-landdroshof toe waar sy tot 12:00 gewag het.

Nadat sy navrae begin doen het, het sy op die namelys gesien die saak teen haar seun is teruggetrek.

Uitvind

Jacobs sê die polisie by die hof het aan haar gesê haar seun het nie hof toe gekom nie omdat daar nie geskikte vervoer vir hom was nie.

Nadat sy ál die pad terug is na die Kraaifontein-polisiestasie, moes sy uitvind haar seun is al die oggend vrygelaat, sê sy.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. FC van Wyk, het Jacobs aangeraai om ’n klag by die polisiebestuur of die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) aan te meld.

Van Wyk sê: “Die beweerde gedrag deur ons lede sal nie geduld word nie.

“Ons sal die geskikte aksie neem as die bewerings bewys kan word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters