DIE vermeende leier (37) van ’n gang en ’n meeloper van hom is Saterdag in Bishop Lavis gearresteer.
Die “bendebaas” is bekend aan die polisie en uit op bail. Volgens sy borgtogvoorwaardes mag hy nie in die Bishop Lavis-gebied gewees het nie.
Sers. Noloyiso Rwexana,’n polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het die twee verdagtes Saterdag 13:30 in ’n kar in Angelastraat voorgekeer.
Die polisie-optrede daar het deel gevorm van hul naweekpatrollies teen bende- en misdaadvoorkoming.
Die passasier (29) van die voertuig is gearresteer vir die onwettige besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.
Albei verdagtes sal vandag in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.
Rwexana sê polisie-optrede in die Bishop Lavis-gebied sal voortgesit word om die veiligheid van inwoners te verseker.