4 dae gelede
Polisie raak hardhandig
eina: Cheslin Klein wys die letsels nadat hy aangerand en geskiet is.Foto: murphy roberts  ~ 

’N GESIN van Saxonsea, Atlantis, is moeilik en sê die polisie het nou te ver gegaan.

Die Klein-egpaar is met hul seun en dogter in die selle gestop en lekker pak gegee net omdat hulle wou weet wat die polisie soek.

Katrina Klein (49) vertel hoe ongeveer 30 cops haar huis in Uitbreiding 13 oor die naweek bestorm het.

“Ek het ’n bietjie gesukkel om die hek oopgesluit te kry, toe begin die mense trap, vloek en skel.

“My seun, wat met sy vriend staan en koffie drink het, het net gesê: ‘jinne, julle sal tog nie daarvan hou as ons dit by julle plekke doen nie,” toe die hel losbars.

“Ons almal is in die van geprop omdat daar vermoedelik ’n sak dagga gevind is. Ons verkoop nie dagga nie en niemand het ooit vir my die dagga gewys nie,” vertel Klein.

Haar seun, Cheslin (22), erken dat hy wel dagga rook.

Hy vertel die polisie het hom in ’n donker kamer geneem waar hy goed afgestof en met rubberkoeëls geskiet is.

Cheslin beweer hy is ook met die agterkant van ’n geweer pak gegee en moes mediese behandeling ontvang.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, is ’n verdagte in ’n voorval by die selle beseer en na ’n hospitaal vir behandeling geneem. Die omstandighede word ondersoek.

Die cluster-bevelvoerder van Atlantis, lt. genl. Aneeqah Jordaan, het vroeër aan die Atlantis-gemeenskap gesê sy sal persoonlik ’n cop wegjaag wat aan brutaliteit skuldig is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters